Oud-Pietie een van ONS en ‘Daai Liedjie’
Ruvé Erasmus en Marco van Deventer het musiekliefhebbers gaande met hulle enkelsnit, Daai Liedjie.
POLOKWANE – “Ek loop en soek jou elke keer wat ek daai liedjie hoor…”
Só sing die duo, ONS, wat onlangs hulle eerste enkelsnit bekendgestel het, en ten minste een van die twee is welbekend in Polokwane.
ONS bestaan uit Ruvé Erasmus en Marco van Deventer, wat mekaar by Ruvé se broer, Riekert, se 21ste verjaarsdagvieringe ontmoet het.
“Ons het besef ons is albei lief vir musiek en nadat hy my oorgenooi het om musiek te maak, het dit vir ons goed geklink en ons het net daar besluit om hierdie groep van ons, ‘n kans te gee.”
Ruvé is ‘n bekende gesig in Polokwane waar sy ‘n top presteerder was by Hoërskool Pietersburg.
Musiek is beslis in haar bloed met haar ouma, Rita Erasmus, wat jare lank koor afgerig het by PHS en Oosskool, en haar oupa, ds. Dopper Erasmus wat die skrywer van Carika Keuzenkamp se lied ‘Timothy’ is.
Marco, wat van Middelburg afkomstig is, het destyds leer kitaar speel om ‘n meisie te beindruk. Dit was die begin van sy reis met musiek.
“Daar is ‘n paar redes hoekom ons die naam ONS gekies het. Eerstens betrek dit almal. Dit is nie my en Marco se musiek nie – dis ons almal se musiek. Dis nie net my en Marco se lekker tye nie, dis ons almal se lekker tye. Tweedens is dit goed vir bemarking. Dit is baie maklik om te se ‘kom join ONS by Die GrootJol’. En laastens kan ons ‘n bietjie spot en sê dat mense liedjies oor ONS skryf, soos byvoorbeeld Kurt Darren se Papsopwinterwaternat liedjie se eerste lirieke is ‘Jy, ek, ons’. Daarmee kan ons dan grap en se dat mense al jare oor ons musiek skryf,” verduidelik Ruvé.
Marco skryf die meeste van ONS se liedjies, en sy liefde is beslis vir die skryf van die lirieke.
“Ek sal begin met ‘n liedjie en ‘n tema of ek sal ‘n idee vir die liedjie kry. As ek vashaak sal ek vir Ruvé vra om ‘n vers of ‘n koorgedeelte te skryf en so bou ons dan aan ons musiek. Ek is goed met die woorde en Ruvé met melodieë en so vul ons mekaar aan. Ons het ‘n baie goeie balans en proses as dit kom by musiek skryf,” sê Marco.
Die duo word deur die kuns van musiek en die krag wat dit het, geïnspireer. Hulle sê dit is wonderlik om deel te kan wees van die musiekbedryf wat nie net ander mense help, nie maar vir hulle ook.
“Musiek kan ‘n mens so baie laat voel en dink en dis net groot genade dat ons ook deel kan wees daarvan,” sê Ruvé.
Voor Daai Liedjie beskikbaar was, het die duo gereeld op sosiale media platforms hulle aanhangers se nuuskierigheid geprikkel en dit is toe ook hier waar Coleske Artists van hulle bewus geword het.
Ruvé sê daar is definitief nog ‘n enkelsnit in die pyplyn, maar hulle moet eers Daai Liedjie nog ‘n bietjie “sy shine gee”.