Local News

Kultuurleier Johan Willemse vier 80ste verjaarsdag

Johan is intens betrokke by Afrikaner kultuur-en erfenisbewaring en het al verskeie nasionale en plaaslike toekennings ontvang.

POLOKWANE – Oom Johan Willemse het Vrydag sy 80ste verjaardag saam met sy vrou Corrie en kinders by ‘n restaurant in die stad gevier en dit was duidelik dat hy, ondanks ongerief met ‘n lastige knie, nog vol vuur en lus was vir die lewe.

Met sy haastige stappie en veelkleurige onderbaadjies, is Johan die epitoom van ‘n trotse Afrikaner wat sy lewe toegewy het aan diens aan die gemeenskap.

Hoewel hy jare gelede reeds afgetree het, het hy nog nie uitgetree nie en het tot onlangs nog inwoners van die stad se belange in die Polokwane Stadsraad op die hart gedra as Vryheidsfront Plus raadslid. Hy was daarvoor bekend dat hy altyd deeglik voorberei was en nie geskroom het om die opposisie trompop te loop as dit nodig was.

Hy het hom veral beywer vir die bewaring en instandhouding van geskiedkundige geboue en plekke en het gou aan die deur van die owerhede gaan klop as ‘n historiese gebou bedreig was.

As gemeenskapsleier was hy aktief betrokke by vele gemeenskapsprojekte en was deurlopend betrokke as raadgewer by onder andere die stad se museums. Besoekers en skole word dikwels na hom verwys om historiese bakens te identifiseer, kultuurhistoriese uitstappies te reël en praatjies oor die vestigingsjare van die huidige bewoners van die omgewing te lewer.

Johan is intens betrokke by Afrikaner kultuur-en erfenisbewaring en het al verskeie nasionale en plaaslike toekennings ontvang. Hy het ‘n leidende rol gespeel in onder andere die Rapportryerbeweging, die Voortrekkers en die FAK en was ook lid van die direksie van die Voortrekkermonument en natuurreservaat.

Die Afrikoontoekenning van die FAK, silwer en goue lapelwapens van die Rapportryerbeweging en die Mapungwube Lifetime Achievers van die provinsiale owerheid vir sy kultuurbetrokkenheid en die uitbouing van die onderskeie kultuurgroepe in Limpopo is maar ‘n paar daarvan.

Die vestiging van ‘n Afrikaner kulturele museum by die historiese Doornkraal Feesterrein is ‘n ideaal wat aktief deur hom nagejaag word.

Johan en Corrie bedryf hul eie klein besigheid wat as Corrie se Kaiadiens bekenstaan.

“As mense gaan vakansie hou of net vir ‘n naweek wegbreek, besoek ons hul huise tweemaal per dag, kyk of alles in orde is en versorg hul troeteldiere. Dit hou ons besig en ons doen dit met ‘n passie,” verduidelik Corrie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button