Local News

‘Wanneer ‘n eetversteuring jou lewe oorneem en jy perfek wil lyk’

Adri Strydom se oefenroetine het strawwer geword en sy het haarself as 'n swakkeling gesien as sy nie genoeg kon oefen of die verkeerde ding geëet het.

POLOKWANE – ‘n Eetversteuring is iets wat geen ouer vir hulle kind toewens nie. Dié toestand het dikwels sy ontstaan uit ‘n angstoestand en is dus moeilik, maar wel behandelbaar.

Observer het met Adri Strydom gesels wat haar storie met bulimie gedeel het.

“Ek was nog nooit uitermate oorgewig nie, maar het as kind myself altyd teen die atleties-geboude meisies in my skool gemeet. Ek het nog altyd sleg gevoel oor my lyf.”

Adri het in haar gr. 12-jaar hard begin oefen en eetlusdempers drink met die plan om perfek te lyk vir haar matriekafskeid.

Na skool is sy universiteit toe en in haar eerste jaar vra sy ‘n man om saam met haar na die huisdans te gaan. “Sy antwoord was dat hy saam met my sou gaan as ek so 10kg minder geweeg het. Ek was so selfbewus daarna dat ek nie eens voor mense wou eet nie.” Met etes het sy eerder haar kos kamer toe geneem as om dit voor ander mense te eet. “Ek het heeltyd gedink mense kyk na my lyf en oordeel my dan omdat ek iets durf eet. Ek het permanent eetlusdempers gedrink en elke vetverbrandingsproduk probeer.”

Op 23 dra sy ‘n nommer 10 broek en weeg 60kg, maar selfs dit was nie genoeg nie.

“Ek het ‘n goeie vriend gehad en ons het gereeld saam gekuier. Dit het my geknak toe ek uitvind sy vriende het agterop ‘n badkamerdeur in hulle koshuis geskryf hy doen whale watching, omdat hy saam met my kuier.”

Adri het begin rook wanneer sy honger gevoel het aangesien dit glo ook ‘n eetlusdemper is. Sy het op die internet na meer maniere om maer te word, begin soek. Wanneer sy wel iets geëet het, het sy dit net gekou om die smaak te kry en dan weer uitgespoeg, oortuig dat dit haar sal vet maak sou sy dit insluk.

“Ek het begin om myself te ooreet en dit dan weer op te bring. Ek het baie wegneemetes gekoop en sou dan ‘n groot sak saamneem om al die kos in te sit, sodat niemand kan sien ek loop met die kos in die koshuis in nie. Dan het ek dit alles in my kamer geëet net om dit later weer op te bring.”

Sy het vinnig aan maniere gedink om die opbringproses makliker te maak, en sou selfs iets kleins soos ‘n hoenderborsie opbring. Sy het ook geleer watter kos maklik opgooi en wat sy eerder moet vermy.

“Ek het ‘n man ontmoet met die gewoonte om reg te eet en te oefen om goed te lyk. Hy het dieselfde van my verwag. Hy het nie geweet van my probleem nie, en ek sou planne beraam om dit stil te hou. Hy het my egter verneuk, en hoe meer hy my verneuk het, hoe meer het ek opgebring. Ek het nooit goed genoeg gevoel nie en permanent gedink ek is vet.”

Haar oefenroetine het strawwer geword en sy het haarself as ‘n swakkeling gesien as sy nie genoeg kon oefen of die verkeerde ding geëet het.

“Ek sou heeldag net koffie en Coke Zero drink en dan so oefen dat ek te moeg is om kos te maak.”

In 2014 ontmoet Adri haar man, maar haar selfbeeld was so sleg dat sy nie kon glo hy stel in haar belang nie. Al het sy met haar verhouding en huwelik met hom haar eetsteurnis oorkom, het sy steeds nie haar liggaam aanvaar nie. Vandag, op 42 het sy steeds nie vrede met haar lyf nie. “Wanneer ek vandag na foto’s van myself in daardie tyd kyk, kan ek sien hoe maer ek eintlik was. Tog is ek steeds soekend na die perfekte dieetpil. Dit is die geestelike skade wat ek opgedoen het, wat altyd sal bly.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button