Local News

Maak seker jou goue oues is in goeie hande

Volgens die Wet op Ouer Persone moet daadwerklike stappe by ouetehuise geneem word om die mishandeling en viktimisering,van bejaardes te help voorkom.

POLOKWANE – Wanneer ‘n bejaarde persoon na ‘n ouetehuis moet gaan, is daar gewoonlik ‘n paar oorwegings – die koste, kamers en spyskaarte is van groot belang.

Sou die bejaarde se kinders daar wegry, word daar geglo hulle ma of pa is in veilige hande. Tog hoor ‘n mens dikwels van bejaardes wat, ook in ouetehuise, mishandel word.

Die wet op ouer persone (Wet 13 van 2006) vereis die implimentering van stappe om bejaardes teen enige vorm van mishandeling, viktimisering, verwaarlosing en vereensaming te beskerm.

Volgens Carol Ankiewicz, Limpopo maatskaplike werker by Helpende Hand is daar ses tipes mishandeling waaraan bejaardes onderwerp kan word.

1. Fisiese mishandeling: Die handeling wat fisiese skade of pyn tot gevolg het vir die bejaarde.

2. Emosionele of psigiese mishandeling: Aksies wat tot geestelike angstigheid lei. Dit sluit in aksies wat aanleiding gee tot die vrees vir geweld, onthouding, gevoelens van skande en magteloosheid.

3. Finansiële uitbuiting: Die onwettige en onvanpaste gebruik of vervreemding van die bejaarde se eiendom, bates en finansies. Die weerhouding van hulpbronne of finansies waarop die ouer persoon wetlik geregtig is, byvoorbeeld Sassa-toelae. Die weerhouding van hulpbronne wat bejaardes uit nood benodig. Die wegdoen of neem van die bejaarde se eiendom sonder hulle toestemming.

4. Seksuele mishandeling: Enige seksuele gedrag teenoor ‘n bejaarde sonder sy of haar toestemming of kennis. Enige gedrag wat die ouer persoon se seksuele integriteit skend.

5. Verwaarlosing en/of self-verwaarlosing: Verwaarlosing is enige aktiewe of passiewe gedrag wat daartoe lei dat daar nie in die bejaarde persoon se basiese behoeftes voldoen word nie.

Verwaarlosing van ‘n bejaarde kan doelbewus of onbewustelik wees.

6. Verlating of agterlating kan opsetlik, of onopsetlik wees. Dit is om ‘n bejaarde wat nie meer na homself kan omsien nie, agter te laat. Bejaardes wat nie meer na hulself kan omsien nie wat sonder toesig gelaat word, kan as ‘n mate van mishandeling beskou word.

In terme van Artikel 26(1) van die Wet moet enige persoon wat vermoed dat ‘n bejaarde as gevolg van ‘n besering wat aan mishandeling gekoppel kan word, ly, die vermoede aan die Direkteur Generaal van Maatskaplike Ontwikkeling of ‘n polisiebeampte bekendmaak.

“Alle persone in die gemeenskap wat vermoed dat ouer persone mishandel word is wetlik verplig om dit aan te meld. Dit sluit in gemeenskapslede, professionele persone soos mediese personeel, maatskaplike werkers, polisie beamptes en prokureurs, sowel as personeel van organisasies wat dienste aan bejaarde persone lewer en enige persoon wat belange by bejaardes het.”

Indien daar die vermoede is dat ‘n bejaarde wat ‘n inwoner in ‘n tehuis mishandel word is die proses soos volg:

• Meld die insident/vermoede aan by die bestuur.

• Die tehuis loods dan ‘n interne ondersoek om te bepaal wat gebeur het en hanteer dit verder.

• Die bestuur meld dit aan by die nodige organisasies en volg die nodige stappe om die ouer persoon te beskerm.

• Indien daar nie ondersoek ingestel word deur die tehuis nie, kan ‘n skriftelike klag deur die familie of belanghebbendes van die bejaarde aan die direksie of bestuur van die tehuis ingedien word.

• Indien daar steeds geen optrede is nie kan ‘n klag gele word by die DMO en die aanmelding kan daar gemaak word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button