Local News

Kindermishandeling: Só geskied die reg

Die statutêre proses is omvattend, maar het ten doel om alle partye in ‘n situasie by te staan, verduidelik ‘n maatskaplike werker.

POLOKWANE -Alhoewel almal bewus is van kindermishandeling, is mense dikwels in situasies waar dit voel of hulle magteloos is – hulle weet nie hoe of waar om die mishandeling aan te meld sodat reg vir die kind geskied nie.

Carol Ankiewicz, Limpopo maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand, gee raad en verduidelik wat die statutêre proses behels.

“Wanneer jy ‘n situasie by ‘n maatskaplike organisasie aanmeld, ontvang hulle die aanmelding en maak seker alle identifiseerbare besonderhede is daar. Indien nie, sal hulle die aanmelder kontak om die besonderhede te verkry.”

Hierna word kontak deur die maatskaplike werker met die gesin gemaak en het sy ‘n konsultasie met al die betrokke partye. Sy probeer so veel as moontlik inligting bekom en kyk hoe sy die gesin kan ondersteun en bystaan.

Hierna begin die maatskaplike werker ondersoek doen, gebaseer op Artikel 150(1) en Artikel 28 van die Kinderwet.

• Die kind sal gewoonlik gestuur word vir ‘n sosio-emosionele assessering afhangende van die aard van die aanmelding (erns van saak ter sprake, vorm 36).

• Afhangende van die inligting verkry deur die kinderassessering, kollaterale onderhoude, tuisbesoek ensomeer, word ‘n ingrypingsplan saamgestel.

• Indien die ondersoek bevind dat die kind sorgbehoewend is en beveilig moet word, word die volgende stappe gedoen:
1. Die maatskaplike werker neem al die inligting en bewysstukke na die hof.
2. Die hof kyk na alle inligting, asook die dienste wat reeds aan die gesin gelewer is. Hierdie bewysstukke sluit gewoonlik ook die aanmeldingvorm en voorkomingsdienste wat die skool reeds aan die gesin gebied het in, asook die voorkomingsdienste wat aangebied is.

• Kinders moet verkieslik by familie geplaas word. Indien nie sal die maatskaplike werker dit moet motiveer.

• As kinders beveilig word moet dit by ‘n goedgekeurde plek van veiligheid, ouers of pleegouers wees wat deur ’n keuringsproses gegaan het.

• As dit in ’n kinderhuis is, moet die plek geregistreer wees en die personeel in besit wees van vorm 30 en 39.

• Sommige organisasies bied opleiding aan hierdie ouers en toesigdienste word deur ‘n maatskaplike werker by hierdie instansies gebied.

• Kinders word slegs beveilig op aanbeveling van die landdros van die kinderhof.

• Maatskaplike werkers bied die inligting aan die hof, en ondersteun die hof, maar die hof maak die finale besluit.

• Ouers het steeds regte en verantwoordelikhede teenoor hul kinders. Hulle het ook toegang tot regshulp asook tot die kinders.

“Die landdros maak besluite op aanbeveling en bewyse van die maatskaplike werker en insette van die prokureur en ander kundiges wat die hof nader oor wanneer en onder watter omstandighede ouers die betrokke kind kan besoek. Dienste word aan beide ouers en kinders gelewer om hul omstandighede en vaardighede te verbeter om weer te kan verenig en as ‘n gesonde gesin te funksioneer.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button