Local News

Kenners maak boere touwys, veiling op 10 Mei

Boere sien veral uit na die jaarlikse Bonsmaraveiling wat binnekort gehou word en volgens Bonsmarateler Pieter Wentzel beloof vanjaar se veiling om weer 'n uitmuntende pakket van uitsoekvee op te lewer.

POLOKWANE – In die aanloop tot die jaarlikse Bonsmaraveiling wat op 10 Mei by Mockford Farms sal gehou word, het boere Vrydag gesellig by die plaas se veilingskrale vergader om tydens die Ysterberg Veestudiegroep se boeredag meer te leer oor sake van belang vir veral beesboere.

Die studiegroep se voorsitter, Helgaard Wentzel het die verrigtinge geopen en die gaste en sprekers verwelkom.

PG Strauss van VKB het die boere bemoedig deur te benadruk dat sukses steeds moontlik is te midde van risiko en onsekerheid. “Dit is belangrik om te onthou dat 70% van ‘n krisis binne jou beheer is, terwyl net 30% ekstern is. Wat belangrik is, is wat jy daarmee maak en my boodskap is om die risiko en krisis om te draai en dit te omskep in ‘n geleentheid,” het hy gesê.

Veearts dr. Johan Cloete dui aan waar dit die beste plek is om ‘n bul in te spuit.

NTK se streekdirekteur, Goosen Lombard het verduidelik hoe VKB en NTK ineenskakel en veearts Johan Cloete het ‘n praktiese bespreking oor onder andere entstowwe gelewer.

Na verversings geniet is, het landbou-ekonoom prof. Johan Willemse interessante data met die boere gedeel en Sietze Smit en Lukas Eksteen het ‘n praktiese beesbespreking gelei.

Boere sien veral uit na die jaarlikse Bonsmaraveiling wat binnekort gehou word en volgens Bonsmarateler Pieter Wentzel beloof vanjaar se veiling om weer ‘n uitmuntende pakket van uitsoekvee op te lewer.

Altesaam 16 bulle, 18 drie-in-een lotte, 42 dragtige verse, 51 oop verse en drie dragtige koeie is reeds deel van die katalogus en al die diere wat aangebied word, word vooraf gekeur deur Danie Olivier, ‘n senior Bonsmarakeurder.

Diere van Mockford Farms, Wenberg Bonsmara, Neustadt Boerdery, JD Venter Bonsmara, Gold Creek Ranch, Bonsmit Bonsmara, Arthur Blofield, Beefridge Bonsmara, Zander Barnes en Bosbult Bonsmaras sal beskikbaar wees.

“Ons wil diere aanbied wat deur elke boer onmiddelik in sy kudde gebruik kan word om ‘n bydrae te lewer tot die verbetering van sy kudde.

Daarom is daar tydens die keuringsproses gekonsentreer op eienskappe soos gewenste bouvorm, strukturele korrektheid, reproduksie en vrugbaarheid,” verduidelik Pieter en voeg by dat lede daarna streef om deur kundige en ervare seleksie, bogemiddelde vroulike teeldiere beskikbaar te stel aan ‘n mark wat met sekerheid hul kuddes met top teelmateriaal kan aanvul. Topbulle met goeie erfdwang, manlikheid, vrugbaarheid, aanpasbaarheid en konformasie aangebied om die genetika van kopers se kuddes te verbeter. “Verder word verseker dat die diere voldoen aan bio sekerheidsvereistes asook minimum entingsvoorskrifte .

“Elke kudde is getoets vir besmetlike misgeboorte (BM) en tuberkulose (TB) asook bek-en-klouseer,” sê Pieter.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button