Zak deel sy akteur-talent met Jabez
Zak is bekend vir sy rol as Gavin Greeff in Ballade vir 'n Enkeling en Werner Visagie in 7de Laan en het ook 'n Naledi-Teatertoekenning ontvang.
POLOKWANE – Opgewondenheid het verlede Dinsdag hoogty gevier toe gevierde akteur Zak Hendrikz en sy span van Pit Productions by Jabez Christian Academy besoek afgelê het met hul professionele interaktiewe bespreking of energieke dramatisering van voorgeskrewe poësie en drama vir leerders in Afrikaans Eerste Addisionele Taal.
Die produksie draai om die voorgeskrewe werk Donker Web deur Fanie Viljoen en is gevolg deur grepe uit Die Wêreld Het So Klein Geword, Vraagteken, Sterrekyker en Taylor Swift en sou nie volledig wees sonder die voorgeskrewe gedigte Daarom, Aandeelhouer, Klein geloof, Strelizia en Mamma Kan Ek Nie Sê Nie.

Hendrikz is bekend vir sy rol as Gavin Greeff in Ballade vir ‘n Enkeling en Werner Visagie in 7de Laan en het ook ‘n Naledi-Teatertoekenning ontvang. Hy vertolk ook die rol van Du Toit Fourie in die drama ‘Kelders van Geheime’ wat tans op televisie te sien is en het nogtans tyd ingeruim om saam met sy akteurs, David (Kudu) Kuduntwane, Tiaan Slabbert en Maynie Knoetze na Polokwane te reis en ‘n heerlike middagete wat deur Jabez se adjunkhoof, dr. Bruce Philips voorgesit is, te nuttig.
Graad 12-leerders van Eagle’s Nest Christian Academy, Veritas School en King’s Court Christian School van Modjadjiskloof en hul opvoeders het ook deel uitgemaak van die gehoor en Jabez se Lerato Ramahuma het Hendrikz en sy span namens almal bedank.
“Die produksie was ‘n aangename ervaring en sal ons baie help met ons eksamens. Ons het ons voorgeskrewe werke eerstehands ervaar en kan nie wag vir die Engelsproduksie wat later vandeesmaand aangebied word nie. Ons waardeer dit dat die akteurs van so ver gekom het om hierdie wonderlike produksie vir ons moontlik te maak,” het Lerato afgesluit.
Jabez skoolhoof dr. Elana Erasmus was beïndruk met die hoë standaard van die produksie en sê dit was beslis die moeite werd. “Ons is ook dankbaar vir ons buurskole wat die geleentheid ondersteun het,” het sy gesê.




