Nuwe takke vir Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand is 'n gemeenskapsorganisasie wat ingegryp het om sy stukture in Limpopo uit te brei en te versterk met die hoop om inwoners by te staan.

POLOKWANE – Boeliegedrag, eensaamheid en selfs werkloosheid is dikwels die oorsake van geestestoestande soos depressie en angs.

Kinders so jonk soos in die laerskool toon tekens van geestestoestande.

Solidariteit Helpende Hand is ‘n gemeenskapsorganisasie wat ingegryp het om sy stukture in Limpopo uit te brei en te versterk met die hoop om inwoners by te staan.

Hulle reik al sedert 2010 na gemeenskappe in Limpopo uit en het op 18 April ‘n omvangryke takstigtingsprojek reg oor die provinsie geloods.

“Die doel van die byeenkomste was om mense in te lig oor Helpende Hand se werksaamhede en om rolspelers by sy bestaande struktuur in te trek,” sê Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, Hannes Noëth.

Hy sê verder dat gemeenskapstudies daarop gedui het dat inwoners vele maatskaplike uitdagings in die gesig staar.

“Daar is wel ook baie mense wat graag wil eienaarskap neem, wat bereid is om self in te spring en aksies en projekte te loods tot voordeel van hul gemeenskap. Helpende Hand wil hulle ondersteun om die energie om te sit in gestruktureerde optrede.”

Altesaam 13 gemeenskappe het hul hande uitgesteek om betrokke te raak.

Die dorpe waar takke gestig is, is Lephalale, Vaalwater, Marble Hall, Groblersdal en Polokwane en in Letsitele, Tzaneen, Phalaborwa, Thabazimbi/Northam en Mookgophong is takke versterk.
Takstigtings word ook vir Modimolle, Mokopane en Bela-Bela beplan.

“Helpende Hand fokus sterk op gemeenskapsontwikkeling en werk saam met skole, kerke, boere, sakemanne en ander belanghebbendes om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Ons besef ook hoe krities opvoeding, opleiding en ontwikkeling is om hoop te skep en vir gemeenskappe se vooruitgang,” sê Noëth.

Elke nuutgestigte tak gaan ‘n lys projekvoorstelle ontvang asook R5 000 om as wegspringpunt te dien vir projekte wat beplan word.

Volgens Noëth is die belangstelling in hierdie inisiatief skep baie hoop vir die toekoms van Limpopo.

“Met gemeenskapskrag en samewerking kan Limpopo groei en vooruitgaan en ‘n beter toekoms vir al sy inwoners bou.”

Besoek www.limpopohand.co.za vir meer inligting en om betrokke te raak.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version