Só volg die een in die ander se voetspore

Suksesvolle kinders is enige ouer se trots en dit is ook nie anders in die Claassenshuis nie.

POLOKWANE – Om drie kinders op universiteit te hê verg baie toewyding, gebed en deursetting.

In die Claassens-huis is dit duidelik dat hierdie resep een is wat werk.

Louw, Streicher en Yvonne, almal voormalige leerders van Curro Heuwelkruin het besluit om almal B.Sc te studeer.

Louw het in gr. 8 by Heuwelkruin aangesluit en was nog altyd geïnteresseerd in rekenaars. Nadat hy sy skoolloopbaan in 2017 voltooi het, het hy B.Sc rekenaarwetenskappe (Hons) aan die Universiteit van Pretoria studeer.

“Ek het nog altyd ‘n belangstelling in rekenaars gehad en het sagteware-ontwikkeling baie interessant gevind, aangesien jy baie vryheid het wanneer jy nuwe produkte skep.”

Streicher het ook in gr. 8 by Heuwelkruin aangesluit. Met dié dat hy die buitelewe geniet het hy in gr. 12 (2019) besluit om B.Sc Plantpatologie (Hons) te studeer.

“Ek het ook besluit op die Universiteit van Pretoria aangesien dit die beste universiteit vir die rigting waarin ek wou gaan, is. Ek het ‘n vierjaarkursus wat honneurs insluit en is nou besig met my meestersgraad.”

Kleinsus Yvonne was sedert gr. 5 in Heuwelkruin en het in 2020 haar skoolloopbaan voltooi. Sy sê sy het tot ‘n week voordat sy moes aansoek doen by die universiteit, nog nie geweet wat sy wil studeer nie.

“Ek het na dr. Mari Laas gegaan wat voorgestel het ek studeer chemie. Ek het steeds tussen die verskillende opsies gewik en geweeg, van haarkapper tot marinebioloog. Ek het op chemie besluit want ek voel alles bestaan uit chemie en ek kan dit oral gebruik.”

Sy het in haar ouer broers se spore gevolg en by Tuks aansoek gedoen, want, soos sy sê ‘Tuks of niks’. Beide haar ouers was ook Tuks-studente.

Die sibbe het onlangs saam graad gevang: Louw sy honneurs en Streicher sy graad wat honneurs insluit en Yvonne haar graad. Tans is Streicher besig met sy meestersgraad en Yvonne met haar honneurs.

Al drie was in koshuise en het aan vele koshuisverrigtinge deelgeneem met ‘n gesonde skoot sosiale tyd ingesluit.

Yvonne erken sy het soms, wanneer dinge moeilik raak daaraan gedink om op te gee.

“Ek glo egter opgee bring jou nêrens. Totdat die Here sê dit is verby, is die nie verby nie.”

Suksesvolle kinders is enige ouer se trots en dit is ook nie anders in die Claassenshuis nie.

Heidi, hulle ma, sê hulle is baie trots op die drie.

“Ons is ook ongelooflik dankbaar vir die geleenthede wat ons vir ons kinders kon bied. Ons is dankbaar vir goeie skole en onderwysers. Dankbaar vir die Here se genade in ons lewens.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version