Martinette: Verbetering elke dag

Martinette Potgieter het nes die res van haar netbalspan uitgesien na die afgelope Saterdag se Bosveld Intervarsity-byeenkoms, maar dié geleentheid was haar nie beskore nie, nadat sy skielik in die hospitaal opgeneem moes word.

POLOKWANE – Volgens Martinette Potgieter (16) se ma, Antoinette gaan dit elke dag beter met haar. Sy moes Vrydag ‘n noodoperasie ondergaan nadat haar blindederm gebars het.

Na die operasie is sy onder verdowing in die intensiewesorgeenheid opgeneem.

“Die dokters het Dinsdag begin om die sedasie stelselmatig te verminder, maar haar suurstofvlakke het begin daal. Daar is X-straalplate van haar longe geneem wat gewys het dat die vog wat haar hande laat opswel het, om haar longe ook is. Hulle het haar voedselinname verhoog en die vloeistofinname verminder, en sy is steeds onder verdowing. Haar infeksietellings het mooi afgekom. Daar is baie om voor dankbaar te wees, en sy word elke dag beter,” sê Antoinette.

Martinette Potgieter, ‘n sestienjarige leerder aan Hoërskool Pietersburg, het nes die res van haar netbalspan uitgesien na die afgelope Saterdag se Bosveld Intervarsity-byeenkoms. Maar dié geleentheid was haar nie beskore nie, nadat sy skielik in die hospitaal opgeneem moes word.

Haar ma, Antoinette, vertel dat Martinette verlede Woensdag al nie lekker gevoel nie.

“Toe ek haar Woensdag by die skool oplaai, was sy bleek en het gekla van pyn. Sy het vir my gesê sy het pouse al sleg begin voel.”

Daardie middag het Martinette geslaap en vroeg Donderdagoggend was hulle by die dokter.

“Hy het vir ons gesê die simptome lyk nie na tipiese blindedermprobleme nie, en die pyn was laag af op haar rug. Ons is huis toe, maar teen sononder was dinge nie beter nie. Sy het gehuil van die pyn. Ek het haar Vrydagoggend weer dokter toe geneem, en toe hy haar sien, het hy ons dadelik na die hospitaal verwys.”

Volgens Antoinette het die blindederm vermoedelik laat Donderdagaand gebars en teen die tyd dat Martinette opgeneem is, het haar liggaam al in sepsis begin gaan.

Sy het ‘n noodoperasie van ‘n uur-en-‘n-kwart ondergaan waarna sy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is en steeds onder verdowing aan ‘n ventilator gekoppel is.

“Sy is oor die algemeen gesond en dit help haar om teen die infeksie te baklei.”

Martinette is nie net ‘n kranige netbalspeler wat onlangs gekies is vir die Limpopo netbalspan nie, maar is ook deel van PHS se atletiekspan (800m en 1 500m) en die landloopspan. Akademies is sy sterk en is reeds van gr. 4 af, elke jaar in die skool se top 10.

“Sy is baie pligsgetrou, en doen altyd eers haar skoolwerk voordat sy ontspan. Sy was in gr. 7 die Dux-leerling en ook onderhoofmeisie by Pietersburg Laerskool. Sy neem ook deel aan spanredenaars.”

Martinette is ook ‘n kranige danser en het aan die SAIBC Limpopo balletstreekkompetisie deelgeneem waar sy ‘n tweede plek behaal het. Sy is genooi om in Julie in Kaapstad in die finaal te gaan deelneem.

Melisa Gilfillan van Melisa Gilfillan Dance Academy wens Martinette sterkte toe. “Ons dink almal aan jou in hierdie tyd. Jou energie, talent en toewyding om te dans was nog altyd ‘n inspirasie vir ons almal. Ons kan nie wag om jou terug op die dansvloer te sien nie. Jy het so ‘n blink toekoms wat voorlê. Wens jou ‘n spoedige en gladde herstel toe. Ons bid almal vir jou.”

Elmari Craig van PHS sê almal is vas oortuig dat haar veggees gaan maak dat sy sommer gou weer volkome gesond is. “Ons vertrou op die Here se genade en genesing.”

Teen Dinsdagoggend het Martinette se koors reeds gedaal tot by 37.7°C, en teen druktyd was sy stabiel alhoewel steeds onder verdowing en aan ‘n ventilator gekoppel.

Lesers wat ‘n bydrae wil lewer kan van Mediclinic se bankbesonderhede gebruik maak:

Rekening naam: Mediclinic Limpopo.

Bank: Absa.

Rekening nommer: 1150 157 192.

Verwysing: 37530.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version