Jason se seuns onthou hom só
Jason Janse van Rensburg se seun Jarred sê sy pa was oral in die stad en selfs provinsie betrokke om die gemeenskap te help.
POLOKWANE – ‘n Bekende inwoner en sakeman van die stad, Jason Janse van Rensburg (48) is skielik op 25 April oorlede na komplikasies na ‘n operasie ingetree het.
Volgens sy seun, Jarred wat namens die familie optree, is Jason op 10 April in die Mediclinic Kloof Hospitaal geopereer, maar hy is uiteindelik oorlede in the Mediclinic Midstream Hospitaal.
Jason het in Polokwane grootgeword en sy skoolloopbaan in Roodepoort voltooi.
Sy eerste pos was op die plaas Alden in die Alldays-omgewing en sy eerste salaris was ‘n bord kos en verblyf.
“Oor die jare het hy twee besighede, Baobab Oil Distributors en Southern Protection Services opgebou tot die suksesvolle ondernemings wat dit vandag is,” vertel Jarred.
Hy sê sy pa was oral in die stad en selfs provinsie betrokke om die gemeenskap te help.
“Hy was ‘n mens wat homself altyd heel laaste geplaas het en vir almal om hom gesorg het voordat hy vir homself sou sorg. Hy het altyd mense gehelp waar hy kan, maak nie saak wat die situasie was nie. Hy was ‘n man van sy woord en het ons altyd geleer dat ‘n mens se woord jou eer is.”
Jason was pa vir Jarred en sy broer, Devon en hulle vertel hulle het baie by hom geleer.
“Hy het ons geleer hoe om deur die lewe te gaan en enige ding aanpak tot die beste van ons vermoë. Hy het ons ook geleer dat om die kortpad te vat altyd gevolge sal hê en dat ‘n mens opreg en eerlik moet wees teen alle tye. My pa was ‘n man wat die gemeenskap en onskuldige mense met sy lewe sou beskerm. Hy het altyd opgestaan vir reg en regverdigheid.”
Jarred sê dat hulle hom gaan mis, aangesien hy ‘n groot voorbeeld vir hulle was.
“Ons sal sy goeie gees en positiewe invloed op ons lewe mis. Hy was altyd daar vir ons en het fisies en emosioneel so mooi na ons gekyk. Ons was en sal altyd bitter lief vir hom bly, hy was ons rots.”
In sy vrye tyd was Jason lief daarvoor om tyd in die gimnasium deur te bring. Hy het graag tyd in die bosveld, om ‘n kampvuur deurgebring en gejag of visgevang. Sy gunsteling plek op aarde was by sy Safarikamp Sijarira in Zimbabwe op die oewer van die Kariba, vertel Jarred.
“Hy was die beste pa waarvoor enige seun kon vra. Hy het altyd net die beste vir ons toegewens, hy was altyd vol liefde, grappe, en hy het ons bygestaan maak nie saak wat nie. Hy was bitter lief vir ons.”
‘n Diens is reeds vir Jason gehou.




