Martinette (16) sterk fluks tuis aan
Martinette is positief en kla net oor pyn wat sy soms het en dat haar maag nog geswel is, vertel haar ma.
POLOKWANE – Twee weke nadat die sestienjarige Martinette Potgieter ‘n noodblindedermoperasie moes ondergaan, is sy ontslaan en sterk sy tuis aan.
Gebede en boodskappe van bemoediging het in dié tyd bly instroom vir dié skrander leerder van PHS.
Volgens haar ma, Antoinette, het Martinette op 15 Mei pyn in haar buik begin ervaar. Hulle het haar na ‘n dokter geneem, maar die pyn het vererger en sy is uiteindelik in die hospitaal opgeneem.
Lees hier: Martinette: Verbetering elke dag
Sy het mettertyd positief begin reageer op behandeling, en op 27 Mei is sy vanaf die intensiewesorgeenheid na die hoësorgeenheid oorgeplaas.
“Dit gaan elke dag beter met haar, alhoewel sy nog baie pyn het, veral in die nag. Sy het ook min energie,” sê Antoinette.
Martinette moet elke dag ‘n antibiotika-drip kry, maar dié prosedure word in die dokter se spreekkamer gedoen.
Die afgelope Sondag is daar weer ‘n skandering gedoen, nadat sy pyn begin ervaar het.
“Daar is veral op die linkerlong nog vog en die dokter probeer om dit met medikasie onder beheer kry. Sy raak nog gou kortasem.”
Antoinette sê Martinette het Donderdag ‘n opvolgafspraak, en hulle hoop dat haar steke dan uitgehaal kan word.
“Hulle het Vrydag, voor sy ontslaan is, die pleisters van die wond afgehaal. Die wond lyk baie mooi. Sy wil baie graag in ‘n bad gaan lê maar die wond mag nie nat word nie.”
Martinette is positief en kla net oor pyn wat sy soms het en dat haar maag nog geswel is, vertel haar ma.
Sy is tot 14 Junie afgeboek, maar aangesien dit ook die dag is waarop die skole sluit, sal sy eers volgende kwartaal weer skool toe gaan.
“Die dokter het oorspronklik gesê dit sal vier tot ses weke duur voordat Martinette weer aan sport sal kan deelneem. Sy sal dit vir eers maar rustig moet vat. Die skool was baie goed vir haar.”



