Help Capricorn Outreach om die nood by te staan
Ds. Tjaart Meyer, een van die direkteure, sê hulle roeping is om armoede en menslike behoeftes binne die grense van Polokwane aan te spreek.
POLOKWANE – Capricorn Outreach NPC is ‘n organisasie sonder winsbejag met Christelike waardes en doelwitte.
Dié maatskappy reik, deur die genade van God, uit na mense wat in nood is.
Ds. Tjaart Meyer, een van die direkteure, sê hulle roeping is om armoede en menslike behoeftes binne die grense van Polokwane aan te spreek.
“Ons reik ook uit na en versorg hawelose mense in skuilings, bied ondersteuning aan mense in terme van hulle basies daaglikse behoeftes en om senior burgers en ander kwesbare persone te identifiseer en te ondersteun.”
Capricorn Outreach het onlangs ‘n skenking gemaak aan Isabel van den Berg wat na 240 gesinne omsien en hulle van kos voorsien.
Sy werk saam met die Christelike Maatskaplike Raad (CMR).
Lizelle Bezuidenhout van Aretha Tehuis is ook geseën deur die organisasie en N.G. Kerk Kremetart is reeds sewe jaar al deel van Aretha Tehuis waar hulle die inwoners bedien.
Tussen die twee instansies het hulle ongeveer R30 000 ontvang.
Meyer sê bystand aan mense in nood sal op grond van die meriete van elke geval oorweeg word. Omgee, aanspreeklikheid, onderskeidingsvermoë en verantwoordelikheid sal getoon word in die aanbied en oorweging van hulp.
“Ons vra nederig vir skenkings van besighede sowel as individue wat graag sou wou bydra. Geen vergoeding gaan aan enige van die direkteure nie en net ‘n klein persentasie van die skenkings word vir administratiewe koste gebruik.”
Die organisasie is geregistreer en kan dus ‘n Artikel 18A sertifikaat uitreik vir inkomstebelastingdoeleindes.
“Ons wil graag hê die gemeenskap moet betrokke raak. Die gemeenskap is ons arbeidsveld en ons gee deur die jaar ook skenkings.”
Om betrokke te raak, kontak Peet Jansen van Vuuren by 015 295 8849 of ds. Tjaart Meyer by 082 551 6341.




