VLU-dogterskuresus propvol aktiwiteite
Jong meisies van Polokwane het onlangs nuwe vaardighede geleer by 'n VLU Finesse Aandtak dogterskursus.
POLOKWANE – ‘n Wintervakansie van drie weke kan lank raak, veral as kinders nie baie het om te doen nie.
Met dié gedagte het die vroue van die VLU Finesse Aandtak in die laaste week van die Julievakansie ‘n dogterskursus gehou. Dit was die vierde keer wat dié kursus suksesvol aangebied is.
Jong meisies tussen sewe en 12 jaar kry die geleentheid om oor twee dae nuwe vaardighede aan te leer.
Vanjaar het Erina Becker en haar dogter, Celma, vir die meisies geleer hoe om kartonletters met papierblomme te versier, terwyl Magda de Nysschen en Gershwin van Tonder hulle meer oor handborduurwerk geleer het.
Anke van Waveren en haar dogter, Natasha het op hulle beurt hulle kennis van suikerkuns oorgedra deur te wys hoe om oulike fondantdiertjies te maak.
Malinda Potgieter en Linda Liebenberg was bedrywig met hekellesse en het ook vir die meisies gewys hoe om spekbome te plant.
Hanli van Ravestein en Anjeanette Venter het die meisies meer van tafeletiket, servetvou en tafeldek geleer terwyl Isabel Frankenberg en Jane Dippenaar hulle gehelp het om ‘n plaatkoekietoring te maak.
Tydens die pouses het die meisies heerlike kolwyntjies genuttig saam met warm koffie, voorberei deur Ria Fourie en Amanda du Plessis.
Romè du Preez woon reeds die dogterskursus vanaf die eerste jaar by en sê sy leer elke keer iets nuuts.
Haar vriendin, Emma Olivier het vanjaar vir die eerste keer die kursus bygewoon en sê sy is beslis terug volgende jaar.
Truhandie Bekker wat ook die kursus bygewoon het, het die papierblomme die meeste geniet.
“Dit was baie lekker om hier te kon wees. Ons gaan ook nog leer van etiket en hoe om borduursteke te maak. Ek het al die papierblomme gemaak in die verlede en weet sommer ek gaan dit geniet.”









