Dié PHS-stoeiers ken van vasvat
Drie leerders van PHS het aan die Junior en Presidents SA Stoeikampioenskappe in Stellenbosch deelgeneem en medaljes verower.
POLOKWANE – “My Pa het so gesê,” antwoord die 14 jarige Gerhard Swan toe ek vir hom vra waarom hy met stoei as sport begin het. Hy en sy sussie, Katelyn, en Ruan Meintjes het in die vakansie aan die Junior en Presidente SA Stoeikampioenskappe in Stellenbosch deelgeneem.
Al drie is leerders by Hoërskool Pietersburg en stoei by die Ion Baciu Stoeiklub.
Gerhard het reeds op drie jaar begin stoei en Ruan (17) het 10 jaar gelede begin toe hy en sy rugbyspan begin stoei het om hulle tegnieke te verbeter en stabiliteit aan te leer.
“Ek het intussen opgehou met rugby en al my fokus op stoei gesit,” sê hy.
Katelyn het gesien hoe Gerhard stoei en wou met alle mag en mening ook stoei. Haar ouers het egter vasgeskop en gesê dit is ‘n seunssport.
“My ouers het uiteindelik in my gr. 7-jaar ingegee en ek kon begin stoei. Ek geniet die sport en wou altyd stoei aangesien die mense so vriendelik is.”
Daar is verskillende kategorië waarin die stoeiers kon deel neem. Katelyn het aan die Presidente Junior Vroue Vrystyl deelgeneem en ‘n goue medalje verwerf.
Ruan het aan die afdeling Presidente Junior Grieks Romeins deelgeneem en met ‘n brons medalje huis toe gekom. Gerhard het aan die o/15 vrystyl deel geneem waar hy ‘n silwer medalje ontvang het, aan die Presidente Juniors Vrystyl waar hy ‘n brons gekry het en ‘n goud in beide die o/15 Grieks Romeins en die Presidente Junior Grieks Romeins behaal.
“Ons oefen vier dae ‘n week vir twee ure. Die stoei seisoen eindig nie en dus is dit ‘n sport vir die hele jaar,”
Op die vraag wat is vir julle die lekkerste van stoei, antwoord Ruan tong-in-die-kies “om klere op te vou met mense binne in.”
Vir Katelyn is die medalje om die nek die lekkerste en Gerhard geniet die waterbreuke tydens oefening die meeste.
Ion Baciu Stoeiklub se eienaar en hoofafrigter, Jan Roets, sê hy is baie trots op al die atlete wat deelgeneem het. “Die stoeiers het goed gevaar en Polokwane se naam hoog gehou. Daar wag nog groot hoogtes op hulle.”