Local News

Bendor-vrou sterk aan na honde-aanval

Melinda Labuschagné word tans vir haar wonde behandel en haar man Sakkie kon nog nie bevestig of sy veloorplantings moet ondergaan nie.

POLOKWANE – Twee honde van gemengde ras het onlangs ‘n 57-jarige vrou helder oordag in die straat naby haar huis in Bendor aangeval en verskeur.

Volgens Sakkie Labuschagné, wat in Van Waverenstraat in Bendor woon, het sy vrou, Melinda onlangs oudergewoonte gereedgemaak om met haar honde te gaan stap, en opgemerk dat twee honde van haar bure verder in dieselfde straat, in die straat rondhardloop.

“Melinda het eers ons honde in die erf gelaat en in die straat uitgegaan om die bure se honde na hul erf terug te lok omdat sy bang was voertuie kan hulle raakry,” vertel Sakkie.

“Die honde het skielik gestorm en Melinda begin byt totdat sy daarin geslaag het om weer na die veiligheid van ons erf te beweeg,” vertel Sakkie en bevestig dat Melinda 68 bytwonde opgedoen het en vyf dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring het.

“Sy het wonde aan beide arms, bene, lies en lae rug opgedoen en ek het net na die voorval by die huis stilgehou en haar na die hospitaal gehaas.”

Volgens Sakkie het werkers van een van die ander bure die honde se eienaar geskakel en hy het gereël dat die DBV die diere van kant maak.

Melinda word tans vir haar wonde behandel en Sakkie kon nog nie bevestig of sy veloorplantings moet ondergaan nie.

‘n Plaaslike veearts wou nie bevestig dat sekere honderasse ‘n geneigdheid het om mense aan te val nie.

“Enige hond kan ‘n mens aanval en ‘n mens moet altyd versigtig wees vir vreemde honde. Honde se gedrag word bepaal deur hoe hulle grootgemaak of opgelei is en ‘n reaksie kan soms aangebring word deur omstandighede soos vreemde geluide, ‘n skielike beweging of uitlokking. Sekere honde is byvoorbeeld beter geskik om vir aanval of soek-en-redding aangewend te word, terwyl gevalle al aangemeld is waar honde wat elke dag met kinders gespeel het, hul eie base of kinders aangeval het.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button