Tragedie op N1: ‘My hele lewe weg’
Wat 'n blye dag moes wees oor 'n familielid wat teruggekeer het uit die Verenigde State, het Vrydagaand in 'n tragedie geëindig na 'n gru-ongeluk sowat 10km voor die Sebetiela-tolhek op die N1.
MOKOPANE – Minette van Wyk (33), ‘n visum-agent wat verskeie landbouwerkers bygestaan het om visums te bekom om oorsee te gaan werk, was saam met haar broer Dawie Snyder, wat pas uit die VS teruggekeer het, haar twee kinders, Joanette Claassen (10), JH Snyder (13) en haar stiefseun, Christiaan van Wyk (10) in die voertuig, wat omgeslaan en verskeie kere gerol het.
Al die insittendes is in die voorval uit die motor geslinger en het op die toneel gesterf.
Dawie het as tydelike H2A-landbouwerker oorsee gewerk.
Volgens die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) was die wit Volvo die enigste voertuig wat betrokke was, en voorlopige verslae dui daarop dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het, wat daartoe gelei het dat dit omgeslaan en verskeie kere gerol het.
Minette se man, Flippie van Wyk en sy dogter, was ‘n ent agter hulle in ‘n voertuig onderweg toe die voorval gebeur het.
“Ek het agter hulle gery en skielik was daar net ‘n stofwolk. Ek moes uitswaai vir die buffer wat in my rigting gekom het, maar min het ek geweet dat my lewe vir ewig sou verander,” het Flippie vertel.
Hy herleef die oomblikke na die ongeluk.
“My vrou was ‘n meter-en-half weg van die motor af, sy was nog warm en ek kon nog ‘n paar hartkloppe voel.
“Sowat vier sekondes later was sy weg. My seun het twee meter van hulle af op die kant van die pad gelê. Hy het nog asemgehaal, maar is ook op die toneel dood verklaar toe die mediese personeel daar opdaag. In my lewe sou ek nie kon dink dat so iets met my sou gebeur nie, maar dit het. My hele lewe is in ‘n oogwink van my af weggevat.”
Die finansiële las van ‘n begrafnis rus tans swaar op die familie en ‘n Back-a-Buddy-rekening is gestig vir enige bystand.
“Enige skenking sal baie waardeer word om die begrafnisse te kan dek en onvoorsiene onkostes wat kan opduik. Selfs net ‘n gebed vir die gesinne sal waardeer word.”
Intussen het die LUR vir vervoer, Violet Mathye, boodskappe van meegevoel aan die bedroefde familie gestuur.
“Graag wil ek ‘n boodskap van meegevoel oordra aan die familie van die vyf mense wat omgekom het in die ongeluk Vrydagaand. Ek is saam met julle in hierdie hartverskeurende tyd.”
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek en die voertuig sal vir verdere ondersoek beveilig word.
Bosveld deel ons innige meegevoel met Minette en Dawie se ma Susan Snyder, Flippie en sy dogter, Dawie se vrou, Elize and dogter, Clarize en ander familie en vriende.




