Polokwane onnies vertel hoe hul 2025 inwag
Die nuwe skooljaar kan dikwels nie gebeur sonder tonne voorbereiding op die onderwysfront nie. Ons het met ‘n paar plaaslike onderwysers gaan gesels oor hulle roetine voor die nuwe skooljaar aanbreek.
POLOKWANE – Bitter min onderwysers daag die eerste dag van die nuwe jaar by die skool op, sonder dat daar eers deeglike voorbereiding gedoen is.
Van plakkate maak en aktiwiteite uitwerk, tot tafelplasings en akademiese voorbereiding vind gedurende die voorafgaande skoolvakansie plaas.
Polokwane Review het met onderwysers by Oosskool en Pietersburg Laerskool gaan hoor hoe hulle vir ‘n nuwe jaar voorberei.
Wian Kruger (Oosskool):

Onderwysers is eintlik baie bevoorreg. Ons kry elke jaar ‘n kans om ‘oor te begin’.
Jy leer uit die vorige jaar se blapse en bou lugkastele vir die nuwe jaar. Vir ‘n onderwyser is die voorbereiding aan die begin van die jaar van kardinale belang vir ‘n suksesvolle skooljaar.
Ek dink elke onderwyser wil ‘reg’ wegspring. Dit sluit in dat die administrasie alles in plek is, jou klas blink-skoon en agter-mekaar-mooi is en al die handboeke en skrifte afgetel en op hulle plek is.
Die belangrikste plan wat ‘n onderwyser egter kan hê, is om te onthou dat die leerders nie jou, jou reëls en jou manier van doen ken nie. Ek en hulle moet mekaar leer ken.
Die aanpassing is groot, nie net vir die leerders nie. Wanneer jy aan die begin van die jaar staan, kan jy nie heeltemal voorbereid wees vir die jaar se uitdagings nie.
Ek dink dis wel makliker om te weet dat die toekoms in God se hande is, en Sy planne vir ons elkeen is groter as wat ons ooit sal kan droom.
Deeglike beplanning en doelgerigte planne is belangrik, maar die rol wat ‘n onderwyser in elke kind se lewe speel is ver verby belangrik. Die hoofbestandeel is pret saam met die kennis.
Zander Human (Oosskool):

Die begin van ’n nuwe jaar is die perfekte geleentheid om nuwe doelwitte te stel.
Ná ’n welverdiende vakansie voel ’n mens dikwels verfris en gereed vir die uitdagings wat die volgende 12 maande mag bring.
Daarom stel ek nie net my persoonlike en professionele doelwitte nie, maar skep ek ook ’n nuwe visiebord om seker te maak dat hierdie jaar een van my beste nog sal wees.
Soos Bill Copeland tereg gesê het: “Die gevaar van om nie doelwitte te hê nie, is dat jy jou lewe kan deurbring deur op en af op die veld te hardloop sonder om ooit ’n punt aan te teken.”
Deur goeie beplanning kan ek my passie optimaal uitleef. Ek streef daarna om nie net akademiese kennis aan kinders oor te dra nie, maar ook om hulle te help om gebalanseerde, gelukkige individue te word wat die wêreld vol selfvertroue en met die nodige vaardighede, deernis en kennis kan aanpak.
Zandrè van der Vyver (Pietersburg Laerskool):

Voorbereiding is noodbelangrik vir ‘n onderwyser.
Dit is ‘n goeie manier om jou opgewonde te maak vir die nuwe uitdagings wat vir jou voorlê.
Ek begin gewoonlik met wat ek graag wil doen en hoe ek ‘n sekere opdrag wil benader, dan begin ek met moontlike uitdagings wat kan opduik.
Jou voorbereiding moet seker maak jou werk word interessant oorgedra, want leerders raak gou verveeld.
As jy genoeg voorberei het met al jou assesserings en doelwitte van die jaar en elke les, begin die ander deel van wat onderrig moontlik maak – skryfbehoeftes en klas mooimaak.
Jy moet in jou klas kan instap en sien dat daar onderrig gaan word. Plakkate en gordyne en natuurlik, plakkers.
En al hierdie vind plaas, terwyl jy jouself ook voorberei. Dalk bietjie ekstra lekkers gaan kry of dalk ‘n bietjie sterker koffie.
Onderwys is een van die beste en lekkerste beroepe wat jy jouself in kan bevind.
En elke jaar wat jy voorberei is ‘n nuwe geleentheid om ‘n verskil in kinders se lewe te maak en jou kollegas te ondersteun.
Susan van Asweging (Pietersburg Laerskool):

Wanneer ‘n grondslagfasejuffrou voorberei vir ‘n nuwe skooljaar, is dit soos om vir ‘n marathon op te warm, net een met meer gom, blinkers en muurkaarte.
Heel eerste moet jy natuurlik eers bietjie nabetragting hou oor wat suksesvol was en wat dalk so effens skeef geloop het deur die verloop van die vorige skooljaar.
Dan begin jy soos ‘n wafferse generaal wat gereed maak vir oorlog jou planne beraam om die die opposisieweermag aan die raai te hou en gedurig op hul tone. Dít sluit in die opstel van doelwitte en die nodige lesbeplanning met nuwe idees om die skooljaar interessant te hou.
Dan kom die voorraadlys: penne, potlode, boeke en genoeg koffie om ‘n hele week se slaaptekort te oorleef.
Natuurlik is ‘n kindervriendelike en vrolike klaskamer volgende op die oorlogsplan.
Daarna oefen jy die beroemde (of is dit nou berugte) ‘juffrou-kyk’ in die spieël.
Daardie een wat anargie en rebellie in sy voetspore kan stuit met die blote lig van ‘n wenkbrou.
Einde ten laaste gaan jou op jou knieë en bid vir elke nuwe gesiggie wat binnekort deel gaan word van jou klasfamilie.
Teen die tyd dat die kinders opdaag vir die nuwe skooljaar is jy gereed, glimlaggend en gewapen met liefde, geduld en dalk ‘n geheime Kit Kat of twee in die laai.
Soos ‘n gesoute onderwyser eendag opgemerk het: “Die onderwys is nooit vervelig nie. Sommige dae word lewenslesse ingeboesem en ‘n generasie geinspireer wat eendag die nasie gaan lei en die ekonomie gaan bepaal en dan ander dae moet jy die kinderlinge herinner om nie die mure te lek nie.”
Dit is en bly en sal egter altyd die grootste roeping, seën en gawe wees om telkens weer ‘n juffrou aan die begin van ‘n splinternuwe skooljaar te wees.
Charlotte van den Bergh (Pietersburg Laerskool):

Onderwys is ‘n roeping. Les- en jaarvoorbereiding is die grondslag vir kwaliteit onderrig en effetiewe leer, wat dcie leerders bevoordeel en hulle akademiese groei bevorder.
Lesvoorbereiding help die onderwyser om duidelike doelwitte te stel.
Deur vooraf te beplan kan ‘n les vlot laat verloop om alle aspekte van die lees te dek. Sorg dat alle hulpmiddels en voorbeelde beskikbaar is tydens die les.
Jy as onderwyser moet kan aanpas by die leerders se behoeftes, so beplan jou les so dat dit by die diverse leefstyl en vermoëns van die kind aanpas.
Wees in beheer en vol selfvertroue. Die leerder moet kan uitsien na elke lesaanbeding, ek kry dit reg deur humor in te bring.




