Franse operasopraan: HTS was nét goed vir my
Erica Eloff is ‘n oud-leerder van HTS Tom Naudé wat haar in Oostenryk bevind. Sy het verlede jaar haar klas se 30-jaar-reünie by dié skool bygewoon.
POLOKWANE – Hoër Tegniese Skool Tom Naudé vier vanjaar die skool se 75ste bestaansjaar en beoog om ‘n groot makietie te hou.
Polokwane Review het met Erica Eloff, Franse operasopraan en ‘n oud-leerder wat haar deesdae in Oostenryk bevind, gesels oor haar tyd by dié skool.
Sy het vroeër verlede jaar haar klas se 30-jaar-renie by die skool bygewoon.
Erica is in Heidelberg, Gauteng gebore en het die grootste deel van haar grootword jare op die Zebediela landgoed gewoon.
Daar was sy in ‘n laerskool met slegs 52 leerders, waarvan haar pa die skoolhoof was.
Nadat sy haar laerskoolloopbaan voltooi het, is sy na Hoërskool Die Kruin in Johannesburg.
“Dit was ‘n spesialis kunsskool met ‘n keuringsproses waar ons die geleentheid gehad het om intensiewe onderrig in musiek, ballet, drama of kuns te ontvang. Ek het die tyd daar baie geniet, maar dit was ver van die huis af en aan die einde van 1991 het ek gevra om huis toe te kom.”
Terug in Polokwane word Erica by Hoërskool Pietersburg ingeskryf, hoofsaaklik sodat sy steeds musiek en Duits as vakke kon neem.
Na vyf maande besluit sy om haar opvoeding te verbreed in ‘n meer praktiese rigting, met die moontlikheid om argitektuur na skool te gaan studeer. Vandaar die besluit om oor te skuif na HTS Tom Naudé.
Erica onthou in haar gr.12 -jaar, het die bibliotekaresse vir haar ‘n koerantuitknipsel gebring.
“Dit was oor ‘n sangkompetisie en meestersklasse in Ermelo wat deur Werner Nel gelei is. Aangesien ek van 1992 as lid van die Verre-Noord Jeugkoor onder Gisela de Villiers gesing het, het almal geweet ek sing graag. Ek het hoopvol ingeskryf en gaan deelneem en op die ou einde nie net die afdeling gewen nie, maar Prof Nel het my ma opsy geneem en gesê ek moet eenvoudig by hom sang gaan studeer.”
Erica erken dat haar jare by Tom Naudé haar talle lewensvaardighede geleer het. Een van dié vaardighede is om praktiese probleme te identifiseer en op te los.
“Dit klink dalk vreemd, maar selfs dinge soos deelname aan drilpeletons en kadetorkes, het my al gehelp met my werk op die verhoog. Musiek is my lewe en was vir ‘n groot deel van my lewe ‘n lewenslyn. As ek nie kon sing nie, sou ek waarskynlik iets heeltemal anders gedoen het, wat steeds kreatief is. Ek is gaande oor argitektuur en onderhouwerk, en sou dit geniet om my daarmee besig te hou.”
Erica woon tans in Linz, Oostenryk en erken sy kom selde terug Suid-Afrika toe. Wanneer sy wel kom kuier, is dit meestal met werk verbind.
“Voor 2024, was ek in 2018 laas in Suid-Afrika, en dit was slegs vir ‘n weeklange blitsbesoek vir drie konserte. Verlede jaar was dit ons skoolreünie en dit was heerlik om soveel bekendes bymekaar te sien. Ek het lekker herinneringe aan my skooldae by Tom Naudé. Af periodes op die pawiljoen, en die handwerk in die werkswinkels staan uit, asook die spangees by sportbyeenkomste. Ek onthou ook altyd die Engels eerste taal leerders se mengelmoes van Afrikaans en Engels, wat groot pret verskaf het. Ongelukkig moet ek erken is daar dinge wat ek eerder sou wou vergeet. Kinders kan maar partymaal wreed wees met mekaar. Daar is ‘n paar geleenthede wat ek wens ek kon opstaan vir myself, en ander, teenoor gemene mense.”
Erica se gunsteling onderwysers was haar taalonderwysers, Vanessa Kachelhoffer vir Afrikaans en Rita Nel vir Engels.
“Anita Struwig was ook ‘n absolute wonderlike mens en so was Ferdi Preller en Poena Posthumus.”
Erica was al in vele uitvoerings te sien, met besliste hoogtepunte.
“Een van die oomblikke wat uitstaan is in ‘Messiah from Scratch’ in die Royal Albert Hall in Londen. Ons soliste het in die middel van die vloer, net agter die orkes gesit. Toe die koor van ongeveer 3 000 stemme agter ons uitbars in die Hallelujakoor, het ek soos ‘n krokodil gesit en grinnik terwyl die trane en hoendervleis in gelyke mate uitbars. In dieselfde optrede het ek ook een van my most embarrassing moments beleef. My familie het in die derde ry van voor af gesit, en my seun was net oor die twee jaar oud. Toe ek opstaan om my eerste resitatief te begin sing, klink daar ‘n baie helder en luide stemmetjie op, ‘Mamma, I need the toilet!’. There we’re shepherds abiding in the field het op ‘n giggel uitgekom, voordat ek myself kon beheer,” sluit sy op ‘n ligter noot af.




