Limpopo se motorfietsryers skenk skryfbehoeftes
Sondagoggend het bykans 150 motorfietsryers van sewe motorfietsklubs by Noordelikes Sports Bar bymekaargekom om skryfbehoeftes te skenk.
POLOKWANE – Ondanks die stereotipe wat aan motorfietsryers geheg word, doen dié groep mense jaarliks groot dinge in die gemeenskap.
Paastyd samel hulle paaseiers in vir minderbevoorregte kinders en dan is daar ook die ToyRun waarmee speelgoed ingesamel word.
Hulle besoek ouetehuise waar hulle saam met die inwoners kuier en steek dikwels hulle hande diep in hulle eie sakke om ander te help.
Sondagoggend het bykans 150 motorfietsryers van sewe motorfietsklubs by Noordelikes Sports Bar bymekaargekom om skryfbehoeftes te skenk.
Die president van die Stationery Run, Michael Kock van Megaforce MC sê die items wat ingesamel word sal tussen die skole waar dit nodig is, verdeel word.
“Hierdie is die eerste jaar dat Megaforce MC die Stationery Run aanbied en ons het besluit, aangesien ons van Tzaneen is, ons die skole daar gaan help. Al die motorfietsryers kom in Polokwane bymekaar, en nadat ons die Limpopo Biker Council (LBC) vergadering gehou het, ry almal wat wil saamry Tzaneen toe. Ons is dankbaar vir almal sy bydrae en LBC se ondersteuning. Dankie ook aan Roadhogs wat die vorige 16 jaar die organiseerders was.”




