Spandeer ‘n dag in die lewe van Natasha, ‘n motorwag
Natasha Brits, 'n motorwag, deel haar reis, uitdagings en toewyding om vir haar gesin te voorsien ondanks stigma en moeilike omstandighede.
MOKOPANE – “Om ‘n motorwag te wees is ‘n eerbare werk, ‘n diens wat ons aan die publiek lewer. Dis ‘n eerlike werk wat ons doen om te oorleef.”
Natasha Brits, ‘n plaaslike motorwag en boorling van Zimbabwe, sê die uitdagings wat saam met haar werk kom, is nie aldag maklik nie.
Sy vertel hoe sy in 1989 saam met haar gesin na Pretoria geimmigreer het toe sy 12 jaar oud was.
Haar skoolloopbaan het sy by Sunnyside Primary Skool afgeskop, en haar hoërskooljare by Sonnestraal Skool afgesluit.
“Daar was egter by dié skool nie ‘n geleentheid om matriek te skryf nie, en ek het standerd agt (gr. 10) voltooi. Nadat ek skool klaargemaak het, het ek tydelik vir ‘n staatsorganisasie gewerk vir twee jaar, maar ek is daarna afgelê.”
Sy vertel hoe sy hierna gesukkel het om werk te kry.
“My ouers was nie in ‘n finansiële posisie om vir my te sorg nie en in 2001 het ek begin om as motorwag te werk in Pretoria.”
Dit was egter nie aldag maanskyn en rose nie, en sy moes al in verskeie dorpe en stede ‘n draai maak om die pot aan die kook te hou.
“Ek het baie rond getrek, en het ook al ‘n draai gemaak in Polokwane. Daar was een dag waarop ek R1 000 verdien het, en my dogter was in daardie stadium net vyf maande oud. Vandaar is ek Bronkhorstspruit toe en vir nege jaar het ek by ‘n groot inkopiesentrum gewerk. Ek het verlede jaar Oktober Mokopane toe getrek, en ek is bly vir ‘n nuwe begin.”
Sy vertel dat, om ‘n motorwag te wees, die moeilikste werk is wat daar is, “want baie mense sien nie raak dat jy ‘n diens lewer aan die publiek nie, hulle waardeer nie wat jy doen nie en aanvaar dit as vanselfsprekend dat jy na hulle motors sal kyk. Hulle sien jou as ‘n bedelaar, wat jy nie is nie,” vertel sy.
“Mense is ook dikwels geneig om neer te kyk op motorwagte. Ek is gewoond om te werk en te oorleef op die geldjie wat ek daagliks maak as ‘n wag,” vertel sy.
By die inkopiesentrum waar sy nou daagliks werk, verdien sy nie ‘n basiese salaris nie, en sy oorleef dus op fooitjies.
In die verlede het sy ook al vir ‘n maatskappy gewerk wat motorwagte uitkontrakteer, en dan moes sy dikwels “staangeld” aan die maatskappy betaal.
Met die fooitjies wat sy verdien sorg sy vir haar dogter, asook haar ma wat reeds in haar sewentigerjare is, en haar suster wat met maagkanker gediagnoseer is, vertel Natasha.
Sy vertel dat haar laagtepunt in dié 24 jaar as motorwag was, ‘n dag was waarop sy geen geld verdien het nie.
“Ek kon daardie dag nie kos op die tafel sit nie, nadat ek die ganse dag in die bloedige hitte deurgebring het.”
Ondanks die uitdagings bly sy positief, “Ek het steeds baie om voor dankbaar te wees”.




