‘n Lewe vol liefde: Petro Grobler se nalatenskap leef voort
Petro Grobler (55) is op 8 April tragies in 'n motorbotsing op die N1 net buite die stad oorlede.
POLOKWANE – Dit gebeur dikwels dat iemand se dood só onwerklik voel dat die skok eers later insink.
Dié gedagtes van ‘dit kan nie wees nie’, het ook deur Petro Grobler (55) se geliefdes se koppe gemaal toe hulle van haar afsterwe verneem het.
Petro is op 8 April tragies in ‘n motorbotsing op die N1 net buite die stad oorlede.
Lees hier: Two killed in N1 head-on collision outside Polokwane
Haar suster, Beatrice de Villiers, het vroegoggend hul ander suster, Santie Barnard, gekontak en gevra dat sy na dié ongelukstoneel ry omdat hulle nie vir Petro in die hande kon kry nie.
Daar was ‘n vermoede dat sy in een van die betrokke voertuie kon wees.
“Op pad daarheen het ek nie vir een oomblik gedink sy is oorlede nie, maar ek het geweet dit is haar voertuig wat betrokke was,” vertel Santie.
“By die toneel kon ek aanvanklik nie met sekerheid sê dis haar motor nie. Die polisie het net bevestig dat die bestuurder ‘n vrou was, maar wou nie hê ek moes gaan kyk nie, omdat ek nie ondersteuning op die toneel gehad het nie.”
Kort daarna het haar swaer, Pieter de Villiers, by die toneel opgedaag.
Ná ‘n rukkie is hulle toegelaat om te gaan kyk, waar dit vir hulle duidelik geword het dat dit wel Petro was wat in die botsing betrokke was.
“Daar word vermoed dat sy op slag dood is weens ‘n nekbesering en ‘n baie harde slag op haar bors,” vertel Santie.
Vir Petro se man, Chrisjan, is haar afsterwe ‘n geweldige verlies.
”Dit is met groot hartseer dat ek my Blom nie meer aan my sy het nie. My hart bloei van vrae waarop ek nie antwoorde het nie, maar een is ek weet jy is op die beste plek. Jy sal altyd deel wees van my hart in my en jou drome. Die spore wat jy getrap het en die engel wat jy was sal altyd met my bly.”
Petro was die oudste van vyf kinders.
Sy het aanvanklik voedsel- en kledingstegnologie aan die technikon studeer, maar later besluit om eerder verpleegkunde te volg.
Sy het vir baie jare in die kraamsaal gewerk en was geliefd onder kollegas en pasiënte.
Sy het onder andere diens gedoen by Drs Du Buisson, Kramer, Swart, Bouwer Incorporated, by Dr. Malan se spreekkamers, en later saam met Dr Zirk Jansen en sy vrou, Lizette, gewerk waar hulle ‘n praktyk opgebou het.
Vir baie mense was Petro meer as net ‘n vriendin.
Volgens Santie was sy nie net hul biologiese suster nie, maar ook ‘n sussie vir vele ander vroue in die stad.
Zirk en Lizette onthou haar as ‘n saggeaarde, geesvervulde mens met ‘n warm hart vir almal – van die vrugteverkoper by die werk tot haar pasiënte, kollegas en vriendinne.
“Sy het altyd die ekstra myl geloop vir ander en was ruim met haar tyd en hulp,” vertel Lizette.
Petro se deernis, menslikheid en liefde vir ander sal die meeste gemis word.
“Sy het graag wyshede gedeel wat ‘n indruk op haar gemaak het. Ek gaan haar stories en haar manier van lewe mis. Sy het my geleer om selfondersoek te doen – en vra of ek die vrugte van die Gees uitleef. Sy het my geleer wat dit beteken om vergenoegd te wees,” sê Lizette.
Santie voeg by dat Petro se simpatie en empatie eienskappe was wat vir hulle uitgestaan het.
“Ons is grootgemaak deur ouers wat altyd probeer het om ‘n verskil te maak. Dit het sy lewend geleef. Ná haar dood het soveel mense vertel watter groot rol sy in hulle lewens gespeel het.”
Lizette sê verder dat Petro gereeld Bybelstudie met haar vriendinne gedoen het, en haar oggende met oefening begin het.
“Sy het altyd gesê ons moet sterk oud word. Sy was ongelooflik trots op haar kinders, op haar werk en dankbaar vir al die ‘Jesus-sussies’ in haar lewe.”
Petro word oorleef deur haar man, Chrisjan, haar kinders Chrisjan en Blumé, asook familie en vriende.
“Die verlies is te groot en te seer om te beskryf,” sê Santie. “Maar ons is dankbaar vir die kosbare herinneringe. Ons kinders is ook dankbaar vir elke vriend en vriendin wat Petro se lewe verryk het. Sy was geliefd en daarvoor sal ons altyd dankbaar wees.”
Petro se roudiens is op 12 April gehou.




