Local News

‘Hierdie siekte gaan nie wen nie’ – Wilma gesels oor MS

Wêreld Veelvuldige Sklerose Maand word op 30 Mei herdenk, en Polokwane Observer het met Wilma van der Merwe gesels oor haar pad met hierdie uitdagende siekte.

POLOKWANE – Daar waar Wilma van der Merwe agter haar lessenaar sit en werk, sou mens nooit sê dat sy aan ‘n ongeneeslike siekte, veelvuldige sklerose (MS), ly nie.

Wêreld Veelvuldige Sklerose Maand word op 30 Mei herdenk, en Polokwane Observer het met Wilma gesels oor haar pad met hierdie uitdagende siekte.

Haar verhaal begin in 1998 toe sy in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was, en onder andere haar linkerarm erg beseer het. Toe sy in 2011 begin vreemd voel, het sy aanvanklik gedink dit hou verband met die gevolge van daardie ongeluk.

“Ek onthou ek was by die werk toe ek my hand op my heup gesit het en skielik besef het ek voel niks nie. Dit was nie pynlik nie, net vreemd. Ek het ook begin sukkel met erge spiere-spasmas en het toe ‘n fisioterapeut besoek. My toestand het egter net versleg, en ek het begin sleg en vreemd voel. Ek is toe verwys na ‘n neurochirurg in Pretoria. Nadat hy nie antwoorde kon gee nie, het hy my verwys na ‘n neuroloog,” vertel sy.

By die neuroloog het Wilma uiteindelik die skoknuus gekry – sy het veelvuldige sklerose.

“Ek het gehoor dit is ongeneeslik. Ek was verslae. Ek kon nie reguit dink nie en ek onthou niks van wat die dokter verder gesê het nie. My liggaam was letterlik in skok. Ek kon nie verstaan hoe iets ongeneeslik kan wees nie.”

Ná haar diagnose het haar gesondheid agteruit gegaan, en dit was vir haar moeilik om te aanvaar dat haar dogter, Juanice, wat destyds net nege jaar oud was, haar moes begin versorg. Juanice het besluit om alles oor MS te leer en bly vandag nog op hoogte van die nuutste navorsing. Sy is steeds haar ma se steunpilaar.

“MS neem baie van jou weg – emosioneel en fisies. Jou vermoë om jou ledemate te gebruik en jou mobiliteit word beïnvloed. Aan die buitekant lyk jy gesond, maar binne is jy aanmekaar geaffekteer. Daar is dae wat jy nie kan of wil opstaan nie. Jy wil eenvoudig nie die wêreld in die gesig staar nie.”

Sy sê daar is sekere dinge wat sy nie meer mag doen nie, soos om bloed te skenk. Tog is sy dankbaar vir die ondersteuning wat sy van familie en vriende ontvang.

“Wanneer ek iemand sien wat erger daaraan toe is as ek, besef ek hoe bevoorreg ek eintlik is.”

Aanvanklik moes Wilma daagliks ‘n inspuiting kry as deel van haar behandeling. Deesdae ontvang sy egter twee keer per jaar binneaars.

“Dit genees nie die siekte nie, maar dit help om jou lewensverwagting te verbeter.”

Wilma sê sy kies daagliks om voluit te leef, al is dit nie maklik nie. Sy werk elke dag en bly aktief.

“Hierdie siekte gaan nie wen nie, al is dit ongeneeslik. Dit definieer nie wie ek is nie. God alleen bepaal my lewe, en ek glo Hy het ‘n plan daarmee. Hy dra my elke dag.”

Sy voeg by dat baie mense nie altyd die verskil tussen verskillende diagnoses, soos skoliose en MS, verstaan nie. Gelukkig is haar dokter sterk betrokke en sorg dat sy soveel moontlik gemaklik is.

“Nie almal ervaar MS op dieselfde manier nie, selfs al deel ons simptome. Ek glo daar is ‘n rede waarom ek hierdie pad moes stap. Ons as pasiënte moet mekaar ondersteun en saamstaan.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button