Annemaré help meisies om hul waarde te ontdek
Annemaré Venter is betrokke by 'The Annebel Foundation', 'n landswye nie-winsgewende organisasie wat jong meisies help om suksesvolle jong vroue te word.
POLOKWANE – “’n Goedversorgde vrou is nie só gebore nie – sy word só grootgemaak.”
Só glo Annemaré Venter van Polokwane, wat haar lewe daaraan wy om jong meisies te bemagtig en hul selfwaarde te bou.
Annemaré is betrokke by ‘The Annebel Foundation’, ‘n landswye nie-winsgewende organisasie wat jong meisies help om suksesvolle jong vroue te word.
Dié stigting is 17 jaar gelede deur die motiveringspreker en gospelsanger Tania Strauss begin en het tans 21 aktiewe takke regoor Suid-Afrika. Elke tak versorg maandeliks tussen 10 en 20 meisies.
Annemaré en haar vriendin, Elaine de Jong van Mokopane, wat reeds 34 jaar lank vriende is, het onlangs besluit om self betrokke te raak.
Elke vyf weke neem Annemaré haar groep van 14 meisies vir ‘n dag vol bederf, gesprekke, kunsaktiwiteite en geloofsbemagtiging. Elaine versorg haar eie groep meisies in Mokopane.
“Ek gesels met die meisies oor sensitiewe maar belangrike onderwerpe soos persoonlike higiëne, seks, boelies en hul drome vir die toekoms,” sê Annemaré. “Ons gesels ook oor hoe hulle hul lewens met die Here kan regmaak, en hoe om te ontsnap uit die omstandighede waarin hulle grootword.”
Vir baie van die meisies is hierdie ervarings eerstehands, aangesien hulle nie by die huis of by die skool sulke lewensvaardighede leer nie. Annemaré se doel is duidelik: om die kettings te breek waarin baie van hierdie meisies vasgevang is, en om hulle ‘n toekoms vol moontlikhede te wys. Sy raak betrokke by hul skoolwerk en moedig hulle aan om te presteer.
“Ek glo in elkeen van hulle, en ek sê dit vir hulle.”
Elke maand ontvang die meisies ‘n pakkie met noodsaaklike vroulike higiëneprodukte, en Annemaré probeer altyd om iets besonders ook in te sluit. “Wanneer ek iets gee, verduidelik ek hoe om dit te gebruik. Ek loof hulle waar dit nodig is – dit maak ‘n groot verskil.”
Sy finansier groot dele van die projek uit haar eie sak, hoewel sy elke maand ‘n klein vaste bydrae van ondersteuners ontvang. Nou is sy op soek na ‘n gemeenskapsprojek waarby haar meisies betrokke kan raak. “Hulle moet leer om nie net te ontvang nie, maar ook om te gee. Die wêreld skuld jou niks.”
Op Saterdag 7 Junie bied Annemaré ‘n vroueoggendtee aan ten bate van haar stigting.
Die geleentheid vind om 11:00 plaas by The Village Theatre, met Tania Strauss as die gasspreker. Vir besprekings, kontak Annemaré by 082 455 9244.




