Tuinliefhebbers kry inligting oor e-vullis en gryswater
Die Pietersburg Tuinbouklub het tydens hul Meivergadering die fokus geplaas het op e-vullis en die veilige hantering daarvan.
POLOKWANE – Tuinliefhebbers is mense wat ‘n passie het vir die natuur en hul omgewing so eko-vriendelik as moontlik probeer hou.
Dit was daarom gepas dat die Pietersburg Tuinbouklub tydens hul Meivergadering die fokus geplaas het op e-vullis en die veilige hantering daarvan.
E-vullis, oftewel elektroniese vullis, hoop vinnig in huishoudings op sonder dat mense werklik besef hoeveel daarvan daar is. Dis die afstandbeheerkarretjie wat nie meer werk nie, die ou selfoon, ‘n stukkende mikrogolf, ou haardroërs of selfs ‘n elektriese skeermes – alles items wat as e-vullis geklassifiseer word.
Gasspreker Fred de Wit, die hoofuitvoerendebestuurder van E-Waste Limpopo, het lede meer insig gegee in wat e-vullis behels en waarom dit noodsaaklik is om dit reg te bestuur. “Ons onderneming het drie jaar gelede begin en vandag voorsien ons werk aan 12 mense. Ons verwerk tussen 10 tot 15 ton e-vullis per maand,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat e-vullis enige toestel is wat met elektrisiteit, batterye, gas of elektronika werk, van kombuistoestelle tot kinderspeelgoed. Hierdie items beland dikwels op ashope waar gevaarlike stowwe soos lithium, lood en kwik in die grond en water kan lek.
“Ons haal die toestelle uitmekaar, sorteer die onderdele, en laai ook items in die dorp op. Soms word daar selfs daarvoor betaal,” sê Fred. Hy noem egter dat mense dikwels glo hul ou toestelle het nog waarde en probeer dit self uitmekaar haal, wat daartoe lei dat herwinning nie optimaal geskied nie.
Nog ‘n spreker, Pieter Grobler van Evergreen, het gefokus op die hergebruik van gryswater. Hy verduidelik dat as ‘n eiendom hoër lê, ‘n bo-grondse tenk effektief is, maar ondergrondse tenks moet goed geïsoleer wees sodat geen skadelike stowwe deur die mure lek nie.
“’n Septiese tenk is duurder, maar veiliger. Gryswater moet binne 24 uur gebruik word en ten minste een filter hê om dinge soos hare en stukkies seep uit die stelsel te hou,” het Pieter gesê. Indien die tenk ondergronds is, moet daar ook ‘n filter naby die kraan wees. Filters moet weekliks vervang word. Hy sluit af deur te sê dat selfs swembad-vloeiwater gebruik kan word vir die natmaak van gras.




