Frans ‘Wiele’ – Só word hy onthou
Frans Janse van Rensburg (49) is op 24 Mei oorlede nadat hy met kanker gediagnoseer is.
POLOKWANE – Daar was min dinge wat vir Frans Janse van Rensburg (49) kon onderkry.
Nadat hy op 17-jarige ouderdom verlam geraak het, het sy lewe onherroeplik verander.
Maar in plaas daarvan om in selfbejammering te verval, het Frans met humor en lewenslus elke dag aangepak.
Frans is op 24 Mei oorlede nadat hy met kanker gediagnoseer is.
Sy lewensmaat, Lizelle Adlem, vertel dat hy einde Maart met trombose opgeneem is.
“Hy is ontslaan en was vir twee weke by die huis. Maar hy het só seer gehad dat ons nie eens aan hom kon raak nie. Ek en ons seun, Franco, het hom in die bed versorg,” vertel sy.
Na verdere mediese ondersoeke is Frans na ‘n neuroloog verwys. ‘n Week later is hy met kanker gediagnoseer, wat aanvanklik in sy prostaat en blaas vermoed is, maar later ook in sy bene en elders in die liggaam versprei was.
Hy het ‘n maand in ‘n hospitaal in Kloof Hospitaal deurgebring voordat hy na die Theunis Fichardt Hospitium oorgeplaas is. Lizelle onthou die laaste dag: “Die Saterdag het hy nog lekker met ons gesels. Daardie aand het die personeel my gebel en gesê ek moet kom, dat dinge nie goed lyk nie. Toe ek daar aankom, was hy reeds in ‘n koma. Ek het vir hom in sy oor gefluister dat ons OK is, en toe het hy sag sy laaste asem uitgeblaas.”
Frans sal onthou word as iemand wat, ten spyte van sy gestremdheid, voluit geleef het, vertel Lizelle.
Hy was lief vir Formule 1, en ‘n groot aanhanger van Max Verstappen. Sy vriende het hom trots “Frans Wiele” genoem.
“Hy het nooit toegelaat dat die rolstoel hom keer om die lewe te geniet nie. Hy was mal oor kosmaak, het altyd gebraai, en sy musiekkennis was indrukwekkend. Op ‘n Vrydag kon hy ure lank musiek speel as platejoggie,” sê Lizelle.
Sy het verder vertel hoe Frans ander graag gemotiveer het. Selfs toe hy siek was, het hy nie negatief geraak nie, net gefrustreerd. “Een persoon het vir lank met hom in die hospitaal gesels, en dit het gelyk of hy daarna vrede gevind het. Ek gaan alles van hom mis, veral daardie tye wat ek by die huis kom en hy het alreeds vir ons kos gemaak.”
Die gesin se geliefde Yorkshire terrierhond, Milo, is drie dae voor Frans oorlede. Lizelle glo vas dat hulle nou saam in die hemel rondhardloop.




