Potties Dienssentrum: Spesiale toekennings vir spesiale lede
Die voorsitter van die dienssentrum, Morné Jooste, het die geleentheid geopen en verduidelik dat die oggend bedoel was om erkenning te gee aan lede wat oor jare 'n beduidende bydrae gelewer het.
MOKOPANE – Die dagbestuur van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes het lede verlede week bederf met ‘n spesiale oggendtee en toekenningsgeleentheid om waardering te toon vir uitstaande diens en betrokkenheid.
Die voorsitter van die dienssentrum, Morné Jooste, het die geleentheid geopen en verduidelik dat die oggend bedoel was om erkenning te gee aan lede wat oor jare ‘n beduidende bydrae gelewer het.
“Die bestuur het besluit om dankie te sê aan dié lede wat gereeld help met funksies, pannekoekbak, Kierieklapper, fondsinsamelings en ander projekte. Hulle dra werklik by tot die sukses van die dienssentrum,” het Jooste gesê.
Erkenningskriteria
Lede is volgens hul jare lange betrokkenheid en diensbaarheid gekategoriseer en vereer met balkies en sertifikate:
• Erelidstatus: Word toegeken aan lede wat minstens 20 jaar aktief by die dienssentrum betrokke is. Dié persoon moet deur volgehoue diens, toewyding en betrokkenheid die naam en groei van die dienssentrum bevorder.
• Staatmaker silwer balkie: Vir lede met 10 jaar diens, wat merkbare bydraes maak tot die sentrum se aktiwiteite.
• Staatmaker brons balkie: Vir lede met minder as 10 jaar diens, maar wat steeds aktief en positief betrokke is.

Volgens Sarie Coetzee, die bestuurder van die dienssentrum, is daar tot dusver net een erelid aangewys: die oorlede Alida Prinsloo. “Vanjaar vereer ons nóg ‘n besonderse persoon met erelidstatus, naamlik Bettie du Preez. Sy is reeds 20 jaar deel van die sentrum en het van dag een af ‘n verskil gemaak. Sy is altyd vroeg hier en help sonder ophou,” het Coetzee gesê.
Bettie se foto sal saam met Alida s’n teen die sentrum se eremuur aangebring word – ‘n simbool van opregte dankbaarheid en erkenning.
Die volgende vroue het staatmaker silwer balkies en sertifikate ontvang: Lenie Fourie, Adrie Lee, Ria Nicklin en Maureen Chalklen.
Staatmaker brons balkies is oorhandig aan Martinus Lee, Petro de Beer, Elsie van Niewenhuizen, Rina Minnaar, Anne-Marie Topham, Merial Maja, Ina Marais, Tokkie van der Walt, Tish Coetzee, Charlotte Bredell, Anetta Janse van Rensburg en Annietjie Beeslaar.
Die bestuur het elke ontvanger gelukgewens met hul prestasies en bedank vir hul diens aan die sentrum. ‘n Spesiale dankwoord is ook gerig aan Spar Mokopane, wat die heerlike eetgoed vir die geleentheid geborg het.




