Dr. Erasmus groet Polokwane na 4 dekades
Dr. Wikus Erasmus het saam met sy gesin besluit om die bosveld agter te laat en 'n nuwe hoofstuk langs die see in Mosselbaai te begin.
POLOKWANE – ‘Tot siens’ sê is nooit maklik nie – veral nie na byna vier dekades se diens aan die gemeenskap nie.
Dr. Wikus Erasmus het saam met sy gesin besluit om die bosveld agter te laat en ‘n nuwe hoofstuk langs die see in Mosselbaai te begin. Dit beteken ook afskeid neem van die praktyk waarvan hy deel was en die talle pasiënte wat hy oor die jare bedien het.
Die liefde vir medisyne het vroeg in sy lewe posgevat: toe hy in matriek moes kies tussen die plaaslewe en ‘n mediese loopbaan. Die middeweg? Word ‘n dokter én boer as stokperdjie met beeste.
Hy het in 1987 na die destydse Pietersburg verhuis en sy huisdokterjaar in die Provinsiale Hospitaal voltooi.
Daarna het hy diensplig in die weermag verrig waar hy in die siekeboeg gewerk het, voor hy teruggekeer het hospitaal toe. Later het hy sy eie praktyk in Rissikstraat begin, en in 2005 by Medpark aangesluit as vennoot.
Wikus beskryf sy vroeë jare as intens, maar vormend. “Ons was vier dokters wat alles gedoen het, van operasies tot narkose. Jy leer vinnig en werk onder uitstekende spesialiste.”
Vir hom was die grootste geskenk van sy beroep nie net die siektes wat hy behandel het nie, maar die mense agter die siektes. “Jy sien nie net ‘n pasiënt nie, jy sien ‘n mens. En jy stap ‘n pad saam met hulle.”
Hy erken dat daar ook hartseer oomblikke was, veral by die hantering van ernstige siektes soos kanker. “Jy beleef elke stap saam met die pasiënt. Dis swaar, maar ook ‘n voorreg om iemand by te staan deur so ‘n reis.”
Hy het ook die ontwikkeling in mediese tegnologie eerstehands beleef: van papierlêers tot gevorderde digitale stelsels, van eenvoudige X-straalplate tot laparoskopiese operasies en MRI’s.
Hy verwys ook na ‘n verlies aan pasiëntkontinuïteit, wat hy meen begrip met die reis met ‘n pasiënt bevorder.
“Vroeër jare het spesialiste terugvoer gegee deur verslae. Vandag is daar min kommunikasie tussen dokters.”
Al gaan hy afskaal, is aftrede nog nie op die horison nie.
Wikus is ‘n sportliefhebber in murg en been, met 11 Comrades Maratons, ‘n Kilimanjaro-uitdaging, die Argus-fietstoer en selfs ysterman-kompetisies agter sy naam. Hy glo in ‘n gebalanseerde lewe.
“Soos ‘n fiets het jou lewe speke. As een uit is, ry jy skeef. Werk, gesondheid en tyd saam met jou gesin moet in balans wees.”
Hy groet sy pasiënte met ‘n opregte dankbaarheid: “Baie dankie vir vier dekades se vertroue. ‘n Mens bou ‘n spesiale band met elke persoon wat by jou spreekkamer instap. Dit is nie maklik om afskeid te neem nie.”
Mag die branders van Mosselbaai vir jou rus bring, dr. Erasmus, en mag jou nalatenskap van empatie en diens wyd voortleef.




