Só sal Polokwane Tannie Pop onthou
Tannie Pop is verlede Maandag aan natuurlike oorsake oorlede nadat sy vir drie weke in die Theunis Fichardt Hospitium versorg was.
POLOKWANE – Dit is met hartseer wat inwoners van die stad vir Tannie Pop Lombaard (82), of Ma Pop soos sy ook bekend was, moes groet.
Tannie Pop is verlede Maandag aan natuurlike oorsake oorlede nadat sy vir drie weke in die Theunis Fichardt Hospitium versorg was.
Haar kinders, Naomi Sutton en Anton Lombaard, sê hulle kon nie vir ‘n beter ma gevra het nie.
“Toe ons kinders, waarvan Anton die oudste is, gebore is, het my ma ‘n huisvrou geword. Iemand wie se huis altyd oopgestaan het vir ons vriende. Sy was ‘n ma vir almal en het almal aanvaar vir wie en wat hulle is,” onthou Naomi.
Tannie Pop het na skool begin werk en vir jare lank administratiewe werk gedoen. Na haar man, David, se dood het sy weer begin werk. Selfs al het sy voltyds gewerk, het haar huis oopgestaan vir ander mense.
“My ma het op ‘n plaas grootgeword en kon enige iets doen. Sy was baie lief vir tuinwerk. Sy was gasvry en het ander mense se nood bo haar eie gestel. Sy het aangebied om te help sonder dat die ander persoon gevra het,” onthou Anton.

Die sibbe onthou Ma Pop as ‘n ma vir almal en hoe hulle maats vir hulleself sou sorg met ‘n eet of drinkding voordat hulle die huis invaar om na die inwoners te soek.
“My ma was baie lief vir bak, maar kon net nie ‘n koek bak nie. Sy kon Hertzsoggies en sjokolade koekies bak en die lekkerste gesondheids beskuit. Haar melktert was die beste in die stad,” onthou Naomi.
Hulle onthou haar ook as ‘n Godvresende, eerbiedige en eerlike vrou wat tot die einde getrou aan haar man was. As vriendin was sy altyd daar, met lang telefoonoproepe op verjaarsdae. Sy was saggeaard en het maklik gehuil, maar sy het ook altyd goed aan ander gedoen.
Anton is beslis dat hulle Tannie Poppie se liefde gaan mis, saam met haar kalm geaardheid. Naomi onthou naweekkuiers in die koshuiskamer saam met haar ma.
“My ma wou ons seer altyd wegvat. Sy was ons steunpilaar. Sy was sekerlik die meeste trots op ons as haar kinders,” sê Naomi.
In 2004 is Naomi se ouer suster, Deirdre Jacobs, aan ‘n brein anurism dood en dit was baie erg vir Tannie Poppie. Naomi sê sy was hartgebroke en het met depressie begin sukkel. In 2012 het Tannie Pop by Ons Tuiste in ‘n woonstel gaan bly tot Alzheimer se siekte in 2017 by haar gediagnoseer is. Sy is na die verswakte sorg geskuif tot kort voor haar dood.
Tannie Pop word oorleef deur haar seun, Anton, dogter, Naomi, skoonseuns Wouter Jacobs en John Sutton en kleinseuns Heinô Lombaard en Luke Sutton.




