Local News

10 Jaar na sy ma se afsterwe pak hy Comrades aan

Op 9 Junie vanjaar het Armand Steyn sy droom bewaarheid en die Comrades-maraton in 10:45:09 voltooi.

POLOKWANE – In die afgelope dekade is Armand Steyn se uithouvermoë, geloof en veerkragtigheid tot die uiterste beproef.

Op 15-jarige ouderdom het hy sy ma aan breinkanker verloor, terwyl sy pa, die prokureur Stefan Steyn, reeds blind is. Die verlies het hom in ‘n stryd teen kliniese depressie laat beland.

“Aanvanklik het ek probeer om alles self te hanteer. Ek het stilgehou oor hoe swaar dit werklik gaan. Maar later het ek besef ek moet die moed hê om hulp te vra,” vertel hy.

Ná sy diagnose het hy met terapie begin, waarin fisieke aktiwiteit soos stap, hardloop en fietsry aanbeveel is. Dit het hom uiteindelik gelei na gereelde oefening en die begin van sy genesingsreis.

In 2016 het ‘n nuwe vriendekring en ondersteuningsnetwerk in sy lewe gekom na hy na gereeld by die gimnasium begin oefen het.

Armand het grootgeword met die beeld van sy pa wat aan maratonne deelneem, selfs die Comrades, ondanks sy gestremdheid.

“Om te sien hoe my pa met geloof en deursettingsvermoë uitdagings aanpak, het iets in my wakker gemaak. Ek het altyd ‘n vae droom gehad om self eendag die Comrades aan te durf,” vertel hy.

In 2021 het hy sy eerste halfmaraton voltooi, en twee jaar later die Magoebaskloof Plunge-maraton.

Op 9 Junie vanjaar het hy sy droom bewaarheid en die Comrades-maraton in 10:45:09 voltooi.

Maar Armand se deelname was oor meer as net ‘n persoonlike prestasie.

“Toe ek besluit om Comrades in 2025 aan te pak, het ek gevoel ek moet dit vir ‘n groter doel doen. Die tema vanjaar, ‘More than a Race’, het my diep geraak – veral omdat dit 10 jaar is sedert my ma se afsterwe. Dit was asof alles in plek geval het,” sê hy.

Hy het gebid oor watter organisasie hy moet ondersteun en is gelei om geld vir Kansa in te samel. Aanvanklik het hy gewonder watter bedrag realisties sou wees, en het toe besluit om R100 vir elke kilometer van die wedloop te probeer insamel – ‘n teiken van R9 900.

Die eindbedrag het egter sy verwagtinge oortref: meer as R40 000 is vir dié organisasie ingesamel.

“Ek is diep dankbaar en oorweldig. Elke donasie, groot of klein, het my diep geraak. Dit het my laat besef ek hardloop nie vir myself nie, ek hardloop vir hoop, vir genesing en ter nagedagtenis aan my ma.”

Die liefdadigheidsprojek is gedeel op die webwerf ‘The Race Set Before Me: My First Comrades for Cansa’, waar Armand se verhaal steeds ander inspireer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button