Local News

Van loopplank to ‘Die Brug’ op KykNET

Wilhrisca Britz, die voormalige eienaar van ACE Models Limpopo-Central, het aan die program deelgeneem in die hoop om blootstelling te kry en dalk 'n deurbraak in die televisiebedryf te maak.

POLOKWANE – Die lewe behandel elkeen van ons anders, maar een ding bly konstant – almal het uitdagings wat oorkom moet word.

“Dit is die lewe. Jy kan nie vir ewig met die seer lewe nie. Jy moet brûe bou en daaroor kom.” Só beskryf plaaslike inwoner, Wilhrisca Britz, haar reis op die tweede seisoen van KykNET se realiteitsreeks ‘Die Brug’.

Wilhrisca, die voormalige eienaar van ACE Models Limpopo-Central, het aan die program deelgeneem in die hoop om blootstelling te kry en dalk ‘n deurbraak in die televisiebedryf te maak.

Wat begin het as ‘n kans, het egter ‘n pad van selfontdekking geword.

“Tydens die verfilming het ek besef ek het nog nie alles in my lewe verwerk soos ek gedink het nie. My storie gaan terug na my kinderdae saam met my ma. Vandag probeer ek ‘n beter ma wees vir my seuntjie.”

Die afskeid van haar driejarige seun was die moeilikste deel van die program vir haar.

“Ek het geweet dit gaan moeilik wees. Ons moes sonder selfone of horlosies klaarkom en het glad nie geweet wat in die wêreld aangaan nie.”

‘n Paar maande voor die program het sy nog in Amerika gewoon, terwyl haar seun in Suid-Afrika agtergebly het – ‘n ervaring wat haar deels voorberei het op die skeiding, maar steeds skuldgevoelens laat.

Hoewel daar nie konflik tussen deelnemers was nie, moes Wilhrisca gereeld tussen spanne beweeg, vertel sy, en haar grootste uitdaging was om met ander deelnemers te sosialiseer.

“Ek het in ‘n stadium in my lewe besef ek het nie ander mense se opinies nodig om goed oor myself te voel nie. Ek is okay op my eie. Ek het nie aan die program deelgeneem om vriende te maak nie, en het geen strategie gehad nie – net hoop dat die regte deure vir my oop sou gaan.”

Sy erken daar was ‘n oomblik toe sy wou tou opgooi, maar die hoop om huis toe te gaan het haar gedryf.

“Elke keer as ‘n fakkel afgeskakel is, het ek gedink dis nou my beurt. Daardie gedagte het vir my hoop en krag gegee.” Wilhrisca sê sonder huiwering dat sy weer aan die program sal deelneem. Terwyl sy nou eers self die episodes kyk, sien sy ‘n ander kant van die deelnemers.

“Toe ons daar was, was almal vriendelik. Nou sien ek dit was nie altyd eg nie. Maar ek glo steeds: wie oor die brug loop, moet net ‘n goeie hart hê en die regte keuses maak, wat dit ook al mag wees.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button