Met breinaalde bring Ouma Annette troos
Annette van der Schyff maak troosbeertjies en Lizzy-poppies vir die kinders van 'Ons Plek', 'n simbool van troos, bemoediging en liefde.
MOKOPANE – André en Annette van der Schyff is geliefde figure in die gemeenskap van Mookgophong, bekend vir hulle warm harte en bereidwilligheid om ander te help.
André, ‘n busbestuurder vir Solidariteit Helpende Hand, het onlangs ‘n operasie ondergaan waarin kanker uit sy oor verwyder is.
Tydens sy seswekelange bestralingsbehandeling in Pretoria, het Annette besluit om haar tyd te gebruik om troosbeertjies en Lizzy-poppies te maak vir die kinders van ‘Ons Plek’.
“Dis vir my ‘n passie om te gee. Hoekom nie iets gee vir die kinderjies om aan vas te hou terwyl hul oupa in die hospitaal is nie? Die beertjies is ‘n simbool van troos, bemoediging en liefde uit ‘n oumahart,” het sy gesê.
Met beide haar man en dogter wat reeds die pad van kanker gestap het en tans in remissie is, het dit Annette verder geïnspireer om bemoedigende mussies te brei en aan kanker-pasiënte te oorhandig wanneer André vir opvolgonder-soeke gaan.
“My suster het my gehelp brei, en ek kan nie wag om dit te gee nie. In hierdie koue is ‘n warm gebaar beslis die moeite werd.”
Die kinders se glimlagte wanneer hulle hul troosbeertjies ontvang, sê alles – ‘n eenvoudige daad van goedhartigheid wat diep spore laat, vertel sy.




