Local News

Pieties swaai wilgerlat in Merensky Krieketweek

Die skool het met trots deelgeneem aan dié jaarlikse krieketfees waar van die beste skole in die land meeding, en beide spanne het hulle uitstekend van hul taak gekwyt.

POLOKWANE – Pietersburg Hoërskool (PHS) se eerste span- en o/15-krieketspelers het die wilgerlatte behoorlik ingespan tydens die 2025 Merensky Landbou Akademie Krieketweek wat van 30 Junie tot 4 Julie gehou is.

Beide spanne het hul wedstryde op PHS se velde gespeel, terwyl die eerste span vir een van hul wedstryde na die velde van Stanford Lake College gereis het.

Alex Thompson wens bouler Niel Ludick geluk na dié ‘n paaltjie platgetrek het in ‘n wedstryd teen Rustenburg. Thompson self het beïndruk met die bal en word uiteindelik aangewys as die beste o/15-bouler van die Merensky Krieketweek met altesaam 15 paaltjies. Links: Marthinus Boneschans vier sy vyftigtal saam met spanmaat Ryal Pretorius in Donderdag se o/15-wedstryd teen HS Rustenburg. Dié twee se vennootskap het altesaam 90 lopies aan die span besorg.

Die week was gevul met talentvolle spel, uitsonderlike individuele prestasies en waardevolle lewenslesse op en van die veld af.

Die skool het met trots deelgeneem aan dié jaarlikse krieketfees waar van die beste skole in die land meeding, en beide spanne het hulle uitstekend van hul taak gekwyt.

PHS se Jordan du Toit, Marthinus Boneschans, Niel Ludick en paaltjiewagter Rolando Caroto wag gereed om te sien wat die volgende aflewering bring.

Met vier oorwinnings uit vyf wedstryde deur die o/15-span, en die eerste span wat drie wedstryde gewen het, kan die seuns trots wees oor hulle vertoning vanjaar.

Verskeie spelers het ook toekennings en nasionale toer-uitsonderings ontvang, wat aangekondig is tydens die dinee wat Donderdagaand by Merensky gehou is:

Alex Thomson is aangewys as die beste o/15-bouler van die week (15 paaltjies) en word opgeneem in die o/15 Dream Team wat later vanjaar na Sri Lanka toer. Ander o/15-spelers wat ook in hierdie span ingesluit is, is Lenny Olley, Ryal Pretorius en Marthinus Boneschans.

Alex Thompson word aangewys as die beste o/15-bouler tydens die Merensky Krieketweek met altesaam 15 paaltjies.

Uit die eerste span word Stephan Swanepoel en AJ Galloway gekies vir die o/18-toerspan wat na Dubai sal toer.

Marthinus Boneschans vier sy vyftigtal saam met spanmaat Ryal Pretorius in Donderdag se o/15-wedstryd teen HS Rustenburg. Dié twee se vennootskap het altesaam 90 lopies aan die span besorg.

Jan-Hendrik Boneschans, Hennie Schoeman en Willem Viljoen het tydens die week hul eerstespanhoedjies ontvang, wat ‘n spesiale mylpaal is.

Eerstespan: Ervaring en talent kom tot sy reg

PHS se eerstekrieketspan.

Stephan Swanepoel het met kolf en bal uitgestaan: 52 lopies teen Secunda, 47* teen Rustenburg en vier paaltjies teen Eldoraigne.

Willem Viljoen het waardevolle bydraes gelewer: 45* teen Brandwag, vier paaltjies teen Rustenburg, en drie paaltjies teen Dr Malan.

Ander noemenswaardige bydraes sluit in:

• Christiaan van der Merwe (4/41 teen Brandwag).

• Hennie Schoeman (4/49 teen Rustenburg).

• Celliers van der Merwe (52) teen Dr Malan in ‘n naelbyt Pro20-wedstryd.

Spelers van die toernooi is Willem Viljoen en Stephan Swanepoel.

o/15-span: Dominansie op elke vlak

PHS se o/15-krieketspan.

Die jong manne van die o/15-span het vier van hul vyf wedstryde gewen, waarvan sommige met oortuigend groot lopieverskille:

• Alex Thomson het almal beïndruk met sewe paaltjies teen Secunda (7/16) en ‘n konstante teenwoordigheid op die veld – met die kolf en bal.

• Ryal Pretorius het 87 lopies van 50 balle teen Brandwag geslaan in een van die hoogste individuele tellings van die week.

• Marthinus Boneschans het met 91 teen Rustenburg gewys dat hy ‘n krag is om mee rekening te hou met die kolf.

• Lenny Olley het baie betroubaar vertoon as bouler (nege paaltjies altesaam) en was ook met die kolf indrukwekkend – 41 van 61 balle teen Secunda.

• Niel Ludick het die Pro20 teen Fichardtpark met 36* (van 24) afgesluit en ook twee paaltjies geneem.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button