Local News

Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof loop deur onder vandale

Die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof in Nirvana is onlangs wéér deur vandale verinneweer.

POLOKWANE – Bewaringsbewustes is warm om die kraag oor die Polokwane Munisipaliteit se argelose houding jeens die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof in Nirvana wat telkens deur vandale geteiken word, en ‘n drukgroep onder leiding van plaaslike historikus en argeoloog Hester Roodt en ook ondervoorsitter van die FAK-kultuurnetwerk in Pietersburg ondersteun deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), oorweeg om regstappe te doen om hierdie nasionale gedenkwaardigheid vir die nageslag te bewaar.

Dié herdenkingsmonument ter ere van die Anglo-Boereoorlog se eeufees, wat in 2001 deur F.T. Preller op dié terrein onthul is, is onlangs wéér deur vandale verinneweer.

“Die beskadiging van bakens en terreine van nasionale historiese belang het ‘n onrusbarend alledaagsheid geword,” sê Charles Rademeyer, FAK-kultuurkoördineerder.

Historikus en argeoloog Hester Roodt by een van die grafte wat gerestoureer is.

“Sluipslapers en booswigte rig landswyd reuse skade aan. In die geval van die Pietersburg-konsentrasiekampkerkhof maak die gebrek aan ‘n veilige, funksionele heining die terrein ‘n weerlose teiken. Buiten die wanadministrasie van belastinggeld, dui die koers waarteen ons erfenisbakens onder munisipale wanbestuur deurloop op ‘n argeloosheid teenoor die Afrikaner se identiteit,” sê Rademeyer.

Lees ook: Konsentrasiekampbegraafplaas loop deur onder vandale

Volgens hom plaas die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, No. 25 van 1999, die verantwoordelikheid vir die bewaring en beskerming van hierdie terrein op die skouers van die munisipaliteit as die eienaar van die kerkhof.

“Die voortdurende versuim om aan hierdie wetlike verpligting te voldoen, is nie net onaanvaarbaar nie, maar ‘n ernstige verontagsaming van ons gedeelde erfenis.”

Ten spyte van hierdie uitdagings werk daar mense vanuit die gemeenskap, konstant op die terrein.

Die monument by die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof is al verskeie kere beskadig.

Daar is besproeiing geïnstalleer, nuwe plante geplant en instandhoudingswerk geskied deurlopend – meestal sonder enige vorm van munisipale ondersteuning. Behalwe vir die diefstal van die aandenkingsbakens, is daar duisende rande se skade aan die besproeiingstelsel en plante aangebring.

Adv Franco Marx, ‘n lid van die Provinsiale Wetgewer, het hierdie saak al geopper in ‘n raadsitting maar ook op dowe ore.

“Die FAK doen ‘n ernstige beroep op die plaaslike owerheid om sy wetlike verpligtinge na te kom. Die beskerming van die Pietersburg-konsentrasiekampkerkhof is nie ‘n guns nie, maar ‘n verantwoordelikheid, gewortel in wet en gewete,” pleit die FAK. Die FAK is sedert Junie 2024 op versoek van die bekommerde Pietersburg-gemeenskap in verbinding met die munisipaliteit, maar tevergeefs. In Desember 2024 het Thipa Selala, munisipale woordvoerder, aan The Citizen gesê dat ‘n heining reeds aangekoop is om die konsentrasiekampkerkhof te beveilig, maar daar is steeds geen heining opgerig nie.

In ‘n brief wat die FAK verlede week aan die munisipaliteit geskryf het, is daar gevra dat die gemeenskap terugvoer op die volgende drie punte binne die volgende week wil kry:

• Watter stappe is die munisipaliteit bereid om te doen om onmiddellike aksie te neem rakende die bewaring en beskerming van hierdie erfenisterrein, om die onophoudelike vandalisme en diefstal op die terrein te bekamp?

• Watter daadwerklike stappe gaan die munisipaliteit doen om verantwoordelikheid vir die beveiliging van die konsentrasiekampkerkhof te aanvaar?

• Wat die huidige stand van sake is rakende die onderhandeling en afhandeling van ‘n Memorandum van Ooreenkoms wat al ‘n geruime tyd gelede aan die munisipaliteit gestuur is?

Verskeie navrae aan die munisipaliteit deur Roodt en Polokwane Observer het eenvoudig onbeantwoord gebly.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button