Na skool? Raad vir loopbaankeuses
Review het by Antionette Maritz gaan kers opsteek oor loopbaankeuses na skool, en hoe om dit te balanseer.
POLOKWANE – Daar is soveel kinders wat nie weet watter rigting hulle na skool wil gaan verken nie, waarvoor presies hulle aangelê is, of waar hulle sterk of swak eienskappe lê nie.
Polokwane Review het by Antoinette Maritz gaan kers opsteek oor hoe om hierdie, en ander, situasies te hanteer.
Antoinette is die fasiliteerder van Bright Insight, ‘n internasionale digitale platform wat kinders vanaf 11 jaar oud help om hulleself beter te ken en sodoende beter besluite vir die toekoms kan neem.
“Die Your Extraordinary Self (YES) program help kinders tussen 11-15 jaar oud om hulleself beter te verstaan, en help hulle ouers om hulle eie kinders beter te verstaan. Ouers besluit dikwels vir hulle kinders wat hulle moet doen en sodoende kan die kind nie sy of haar eie besluite neem nie.”
Antoinette doen ook loopbaanberading waar sy kinders van 15 jaar af help om te weet wie hulle is en sodoende help met loopbaanleiding.
“Sonder drome kan ‘n kind nie ‘n visie hê nie. Met die aanlyntoets leer die kinders en hulle ouers hoe om hulle te hanteer. Dit help jou besef dat jou plan nie noodwendig die plan van almal rondom jou is nie. Nie almal kan president wees nie. Jy weet wie jy is, maar die wêreld en mense om jou beïnvloed jou. Alles wat bestaan is deur iemand uitgedink, maak nie saak hoe gering dit is nie. ‘n Mens kry nie lui mense nie, net mense wat nog nie hulle passie gevind het nie. Hulle het nie ‘n droom en ‘n visie nie, en weet net nog nie waarheen hulle op pad is nie.”
Sy verduidelik dat dit moeilik is om jou skoolloopbaan te voltooi as jy nie weet wat jy na skool gaan doen en waarom jy sekere vakke moet hê nie.
“Wanneer kinders ‘n visie vir hulle toekoms het, is die pad tussenin makliker. Wat kinders nie besef nie, is dat elke keer as hulle iets doen, vorm dit paadjies en eendag as hulle volwassenes is, gebruik hulle die wiskunde en wetenskap wat hulle geleer het, sonder dat hulle dit besef.”
Antoinette sê mense besef nie hoe belangrik dit vir kinders is om te verloor nie.
“Sodoende bou hulle karakter. Dit is natuurlik nie lekker om te verloor nie, maar jy moet leer om op te staan en weer te probeer. As iets nie werk nie, probeer iets nuuts. Doen dit wat jou gelukkig maak. Net omdat jy iets spesifiek, soos kuns wil studeer, beteken nie jy is dom nie.”
Antoinette help mense al agt jaar lank met hierdie toetse en sê sy kan sien hoe mense se selfvertroue verbeter wanneer hulle weet wie hulle is en waar hulle hoort. Sy doen dan aanbevelings, en moedig veral kinders aan om altyd aan te hou droom.




