Reën stuit nie 25ste Kierieklapper gees
Hoërskool Piet Potgieter was weer die gasheer vir die jaarlikse geldinsamelingsprojek ten bate van die Dienssentrum vir Bejaardes.
MOKOPANE – ‘n Onverwagte reën- en haelbui het verlede Donderdag in die omgewing uitgesak, maar dit kon nie die gees by die Kierieklapper Kunstefees demp nie.
“Dit was die eerste keer in 25 jaar wat dit ‘n hele dag lank gereën het, met 80mm wat geval het. Ons het wel minder voete deur die hekke gehad en dit het ons finansieel benadeel, maar ons is dankbaar vir die reën, die Here het altyd ‘n doel daarmee,” vertel Johan Kirchner, voorsitter van die Kierieklapperfeeskomitee.
Hoërskool Piet Potgieter was weer die gasheer vir die jaarlikse geldinsamelingsprojek ten bate van die Dienssentrum vir Bejaardes.
Die fees het vanjaar ‘n verskeidenheid vermaak aangebied, met hoogtepunte soos Mel die Storieverteller wat die program in die skoolsaal afgeskop het, en op die hoofverhoog was Piesangskille, Snotkop, Barto Swiegers en Droomsindroom groot trekpleisters. Saterdagmiddag het Mr Bones Magic die jongspan vermaak met sy vertoning.
Die Mej. Kierieklapper-kompetisie het 48 deelnemers gelok, almal uitgedos in kleurvolle uitrustings volgens vanjaar se tema. Lizaan Fichardt is as Mej. Kierieklapper gekroon, met Lune Otto as eerste prinses en Kiandra Smit as tweede prinses. Die Mev. Kierieklapper-titel is aan Tamryn van Rooyen toegeken, terwyl Melissa Scott eerste prinses en Cynthia Terblanche tweede prinses was.
Volgens Kirchner was die grootste beloning vir die feeskomitee om die geluk op die feesgangers se gesigte te sien – van die eetgoed tot die vertonings. “Saterdagaand se optredes was uitstekend en die feesgangers het dit baie geniet.” Die fees is Sondagaand in die N.G. Hulp en Hoop Gemeenskapskerk afgesluit met ‘n vertoning deur Manie Jackson.
Hy sê die fees het sy uitdagings gehad, maar ekstra sekuriteit het ‘n groot verskil gemaak. ‘n Groep vrywilligers het Sondag gehelp om die terrein en strate op te ruim, waarvoor die komitee baie dankbaar is. Kirchner bedank ook al die borge, die gemeenskap, asook die Kierieklapper- en Dienssentrum-personeel vir hul harde werk.
“Dit is beslis nie die laaste Kierieklapper nie. Sonder die geld wat ons insamel, sal 174 bejaardes wat daagliks by die Dienssentrum kos kry, nie versorg kan word nie. Ons gaan altyd baklei om die beste daarvan te maak. Kom wees positief en help waar jy kan. Die Kierieklapper is hier om te bly,” het hy gesê.














