Local News

Erfenisbewaring: Polokwane Munisipaliteit gryp in om kerkhof te help

Die Polokwane Munisipaliteit het onlangs bevestig dat hulle gaan daadwerklike stappe beoog om die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof te beskerm.

POLOKWANE – In wat as ‘n positiewe tree vorentoe vir erfenisbewaring beskryf kan word, het Polokwane Munisipaliteit onlangs bevestig dat dié owerheid bewus is van die toestand waarin die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof verkeer en daadwerklike stappe beoog om maatreëls in te stel om die geriewe te beskerm.

Lees ook: Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof loop deur onder vandale

Dít nadat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), ondersteun deur dié instansie se plaaslike kultuurnetwerk, die munisipaliteit voor stok gekry het oor opknappingsbeloftes waarvan dadels gekom het.

Volgens FAK-kultuurkoördineerder Charles Rademeyer het die munisipaliteit nou bevestig dat draagbare toilette en ‘n wagpos vir wagte by die fasiliteit binnekort voorsien sal word.

Een van die strukture by die konsentrasiekampkerkhof wat al onder vandale deurgeloop het.

Bourommel sal verwyder word en die terrein sal afgeskort word om dit teen betreding en onwettige storting te beskerm, terwyl ‘n muur aan die oostelike grens sal opgerig en die bestaande heining en hoofhek herstel sal word.

Volgens Rademeyer waardeer die gemeenskap hierdie eerste tree.

“Ons sien dit as ‘n erkenning dat die munisipaliteit sy wetlike plig en historiese verantwoordelikheid verstaan en verwelkom die bereidwilligheid tot samewerking met die FAK en die plaaslike gemeenskap. Ons weet egter die stryd is nog lank nie gewonne nie. Daar is steeds verskeie vrae wat onbeantwoord is, insluitend tydraamwerke, volhoubare standaarde en die gehalte van uitvoering,” sê Rademeyer.

Hy sê die FAK en die plaaslike gemeenskap is daartoe verbind om die konsentrasiekampkerkhof skoon en veilig te hou, maar doen terselfdertyd ‘n dringende beroep op die munisipaliteit om sy beloftes gestand te doen.

Plaaslike historikus en argeoloog en ook ondervoorsitter van die FAK-kultuurnetwerk van Pietersburg, Hester Roodt.

“Die toekoms behoort aan almal wat aktief daaraan bou. Kom ons vat hande.”

Die FAK sal nou met die owerheid in gesprek tree om helderheid te kry met betrekking tot die tydraamwerk en sperdatums, begroting en hulpbronne, gehaltebeheer en sekuriteit. Die FAK wil ook graag weet op welke wyse en hoe gereeld die munisipaliteit amptelike terugvoer gaan gee aan die FAK en die gemeenskap oor vordering.

Die FAK wil verder ‘n aanduiding van die munisipaliteit hê oor hoe die owerheid in die toekoms sy wetlike verpligting teenoor die terrein konsekwent sal nakom sodat soortgelyke agterstande nie weer voorkom nie.

“Ons glo dat hierdie vrae nie struikelblokke is nie, maar boustene. As ons sáám die antwoorde vind, sal ons nie net ‘n begraafplaas herstel nie, ons sal ‘n erfenis bewaar, ‘n gemeenskap versterk en ‘n toekoms bou waarin almal hul plek kan vind,” sê Rademeyer.

Die ondervoorsitter van die FAK-kultuurnetwerk van Pietersburg, Hester Roodt, beywer haar al ‘n geruime tyd vir die bewaring van die kerkhof en het groot sukses behaal met die onlanse restourasie van die grafte en deurlopende herstelwerk aan die artefakte op die terrein.

“Ek is baie dankbaar vir die munisipaliteit se onderneming, maar versigtig optimisties,” sê Roodt.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button