Local News

Modimolle-Mookgophong-staking veroorsaak ontwrigting

Die gevolg van die staking is 'n loongeskil wat terugdateer na die omstrede samesmelting van die Modimolle- en Mookgophong munisipaliteite in 2016, 'n besluit wat reeds toe verdeeldheid gesaai het.

MOKOPANE – Die staking van munisipale werkers van die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit veroorsaak groot ontwrigting in dienslewering in Mookgophong.

Volgens Vryheidsfront Plus-raadslid, Marita Louw, is die staking die gevolg van ‘n loongeskil wat terugdateer na die omstrede samesmelting van die Modimolle- en Mookgophong munisipaliteite in 2016, ‘n besluit wat reeds toe verdeeldheid gesaai het.

Louw sê die stakende werknemers van die voormalige Mookgophong Munisipaliteit eis dat die salarisongelykhede tussen hulle en Modimolle se werkers opgelos word voordat hul terugkeer na hul pligte. Volgens haar is dit ‘n voorbeeld van die ANC se wanadministrasie en waarsku sy dat die inwoners van Mookgophong die grootste prys betaal.

“Die munisipaliteit is onder bykomende druk omdat daar tans geen begroting vir die salarisaanpassings wat werkers eis beskikbaar is nie. Daar is ook onsekerheid oor die aanstelling van ‘n waarnemende munisipale bestuurder in die plek van die geskorste bestuurder, Ben Thobela, wat ondersoek word oor ‘n lening wat hy namens die munisipaliteit aangegaan het,” sê Louw.

Die stakende werknemers eis dat die salarisongelykhede opgelos word voordat hul terugkeer na hul pligte.

Sy verduidelik verder dat Limpopo se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Basikopo Makamu, geweier het om Patrick Shika se aanstelling as waarnemende bestuurder goed te keur omdat hy nie aan die wetlike vereistes voldoen nie.

“Dit beteken dat die munisipaliteit buite wetlike raamwerke funksioneer en dat enige besluite wat die raad neem negatiewe gevolge kan inhou in die komende ouditverslag van die ouditeur-generaal,” het sy afgesluit.

Op 21 Augustus is ‘n spesiale raadsvergadring belê om dringende sake soos finansiële integriteit, arbeidsverhoudinge en algemene bestuur van die munisipaliteit te bespreek.

Louw sê dat die kwessie rakende die aanstelling van Patrick Shika, wat steeds nie die goedkeuring van Cogta ontvang het om as waarnemend op te tree nie, nog hangend is.

“Wat die salaris-ongelykhede staking aanbetref is ‘n voorlegging deur Shika en die administrasie wat bevestig dat die kwessie van salaris-ongelykhede nie slegs Mookgophong (Naboomspruit), maar ook Nylstroom-amptenare raak. Die raad het ‘n resolusie geneem dat die bestuur opdrag kry om die saak aan Salga voor te lê en terugvoer aan die raad te gee. Daar is wel bevestig dat die huidige staking onwettig is en dat stappe geneem sal word teen die betrokke amptenare,” sê Louw en voeg by dat die VF Plus sal aanhou om deursigtigheid, verantwoordbaarheid en finansiële dissipline in die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit te eis. “Ons sal nie toelaat dat belastingbetalers verder uitgebyt word om die foute van swak bestuur te finansier nie,” het sy afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button