FOTO’S: Waterberg-plaasaanval – Boer kon verdagte uitken
Volgens Hendrik Hattingh van die Heritage Protection Group (HPG) het die boer die ligte in sy huis begin afskakel toe hy by die venster opmerk dat sy bakkie se gereedskapkas oopstaan.
POLOKWANE – ‘n Plaasaanval het verlede week omstreeks 23:30 in die Waterberg-area plaasgevind toe ‘n plaasboer tydens ‘n roetine-naginspeksie by sy voertuig aangeval is.
Volgens Hendrik Hattingh van die Heritage Protection Group (HPG) het die boer die ligte in sy huis begin afskakel toe hy by die venster opmerk dat sy bakkie se gereedskapkas oopstaan.

“Hy het toe die kombuisdeur oopgesluit om die deksel toe te maak, maar is toe deur ‘n man oorval en met ‘n yster aangeval,” sê Hattingh.
‘n Hewige stoeiery het gevolg, maar die boer het daarin geslaag om los te kom en homself in sy slaapkamer toe te sluit. Hy het onmiddellik sy bure gekontak, wat vinnig gereageer het op die noodroep.

“Die aanvaller het gevlug voordat die hulp kon opdaag,” vertel Hattingh.
Die bure moes uiteindelik die kamerdeur afskop om die boer te bereik.
Die boer het ernstige beserings opgedoen, waaronder ‘n gebreekte arm en ‘n oop wond. Hy is na ‘n privaat hospitaal in Polokwane geneem vir mediese behandeling.

Die spore van die verdagte was moeilik om op te spoor weens die gras en die voertuie van diegene wat tot hulp gesnel het. Tog is daar later ‘n plek gevind waar die verdagte oor die draad geklim het.

Die HPG, plaaslike boere en die polisie het die spoor tot by die Sterkrivierteerpad gevolg, waar dit doodgeloop het.
“Die boer kon wel die verdagte uitken aan sy liggaamsbou en stem,” sê Hattingh. ‘n Saak is by die polisie geopen en die ondersoek duur voort.




