Danksy leser kan Isabella weer glimlag
Isabella is met emaljehipoplasie gediagnoseer. Haar ma, ‘n enkelouer, sê die gereelde spesialisbesoeke sit ekstra finansiële druk op die gesin.
POLOKWANE – Waar sy saam met haar maats op die speelgrond rondhardloop, lyk Isabella de Vries soos enige ander 10-jarige. Kyk jy egter van naderby, sal jy agterkom haar glimlag is nie so breed soos haar maats s’n nie.
Isabella is met emaljehipoplasie gediagnoseer, wat beteken dat die beskermende emalje op haar tande nie behoorlik vorm nie. Haar ma, Bianca, sê die emalje is dun, onewe en plek-plek heeltemal weg.
“Haar tande is baie sensitief vir pyn en gaatjies. Sy het as jong kind nie taai vleis geëet of van koue goed gehou nie. Ons het gedink sy is net vol fiemies, maar besef nou haar tande is te sensitief en sy kry seer wanneer sy kou,” sê Bianca.
Isabella, wat ook met ADHD en disleksie gediagnoseer is, se selfbeeld word deur haar tandprobleme aangetas. Bianca verduidelik: “Emaljehipoplasie begin reeds terwyl die tande in die tandkaste vorm. Aangesien die skade permanent is, gaan Isabella deurlopende tandheelkundige sorg nodig hê. Dit is nie kosmeties nie – dit is noodsaaklik om haar tande te beskerm, pyn en infeksies te beheer, en haar selfvertroue te bou.”
Daar is verder probleme in Isabella se mond. Aan beide kante van haar bokaak, langs die permanente oogtande, breek tande deur wat ander tande se groei kan belemmer. Een tand op die onderkaak kan moontlik getrek moet word.
Bianca, ‘n enkelouer wat ook na haar bejaarde ouers omsien, sê die gereelde spesialisbesoeke en spesiale klasse wat Isabella moet bywoon, bring ekstra finansiële druk. Sy kry geen ouertoelae nie en kan nie bekostig om aan ‘n mediese fonds te behoort nie. “Die situasie is nie lewensbedreigend nie, maar dit is kritiek.”
‘n Leser wat graag anoniem wil bly, het ‘n bedrag geskenk vir die prosedure.
Bianca vertel: “Ons is baie dankbaar vir die skenker en kan nie genoeg dankie sê nie. Isabella het op 6 September haar eerste konsultasie gehad en die operasie wat sy gaan kry, vind op 6 Oktober plaas. Die tandarts gaan ses tande wat nie gered kan word nie, verwyder en haar voortand behandel.”
Bianca sê sy besef dat Isabella na die prosedure pyn gaan hê en dat sy nie die nodige fondse het vir pynbehandeling nie. “Dit, saam met opvolgbesoeke gaan nog geld kos, geld wat ons nie het nie.”
Sy noem ook dat enige van Isabella se ander ontwikkelingsonkoste, soos haar ADHD-behandeling uit die skenkings wat sy nog inkry, betaal gaan word. “Ek hou boek van al die geld wat inkom. Die geld gaan direk vir Isabella se behandeling. Ek kan nie my dank uitspreek vir almal wat vir ons geld skenk vir die behandeling.’’




