Local News

Vroue ingelig oor mediese aspek van borskanker

Oktober is Borskankerbewustheidsmaand en dames in die stad het Saterdag ‘n tee bygewoon en meer oor dié toestand te wete gekom.

POLOKWANE – Tydens ‘n damestee Saterdagoggend het die gaste meer oor borskanker te wete gekom.

Oktober is Borskankerbewustheidsmaand, en die tee is aangebied deur Mercia Warmenhoven, ‘n vrywilliger by Reach for Recovery en self ‘n borskankeroorwinnaar.

Tydens die geleentheid het gassprekers hulle reis met kanker gedeel.

Dr. Christine Kruger en biokenetikus Lizanne Dreyer het die gaste meer vertel oor die mediese aspekte van dié toestand.

Wat die professionele persone sê:

Lizanne Dreyer – biokinetikus:

“Inligting oor die belangrikheid van beweging en oefening na ‘n mastektomie is noodsaaklik. Oefening in hierdie geval behels die sagte en doelbewuste herstel van jou liggaam. Jou liggaam het deur operasies, behandeling en uitdagings gegaan, elke strek, asem en tree is ‘n manier om jou krag en selfvertroue terug te kry.”

Oefening is belangrik want:
• Oefening verbeter die skouer se omvang van beweging.
• Dit help om normale skouerbewegings te behou of herwin.
• Oefening verminder die pyn en styfheid in jou nek, rug, skouers en bors.
• Dit help jou om vinniger terug te keer na jou daaglikse aktiwiteite.
• Dit verbeter jou algehele krag en gesondheid.

“Eenvoudige beweging soos vingermuurklimoefening, skouerpendulums, skouerrolle en diep asemhaling kan baie help met die mobilisering van spiere. Jy sal geleidelik vorder na krag- en uithouvermoëoefeninge. Met tyd sal jy nie net fisieke krag bou nie, maar ook meer energiek wees. Oefeninge is nie ‘n wedloop nie. Dit is ‘n reis, een waar ons eer wat jy oorleef het en bou na dit wat jy nog gaan bereik. Beweeg met geduld en liefde en vier elke klein tree vorentoe.”

Dr. Christine Kruger – mediese dokter:

“Die bors bestaan uit vel, vetweefsel, klierweefsel en bindweefsel. Die klierweefsels word verdeel in buise en lobules. Lobules produseer die melk en die buise vervoer dit na die tepel. As een van hierdie selle abnormaal begin groei word dit kankerselle.”

Christine verduidelik die tekens en simptome van borskanker:

Party vroue het geen tekens aan die begin nie.
– Knop in die bors.
– Veranderinge in die voorkoms van die bors:
– Wanneer dit rooier as gewoonlik is.
– Geswel of die bors sit hoër.
– Dimpels in die bors.
– Geswelde limfkliere.
– Tepelintrekking of afskeiding.

“Van hierdie simptome kan deur ander faktore veroorsaak word wat nie noodwendig kanker is nie, soos gewasse en ‘n borsabses. Sommige mense raak bekommerd as hulle pyn ervaar, maar dit is nie noodwendig kanker nie, maar eerder inflammasie of hormonale effekte.”

Christine sê daar word baie gedebatteer oor hormoonvervangingsterapie aangesien die voordele van hierdie behandeling meer is as die verhoogde risiko vir borskanker.

Daar is twee tipes borskanker, naamlik dié met ‘n oorsprong in die buise en dié met ‘n oorsprong in die lobules, het sy verduidelik.

Beide word verdeel in infiltrerend en nie-infiltrerend. Infiltrerende karsinoom is die mees algemene borskanker.

Selfondersoekstappe:
• Ontbloot beide borste en staan voor ‘n spieël met jou arms langs jou sye.
• Kyk na die grootte van jou borste: een bors kan groter wees.
• Kyk na die posisie, een bors kan hoër sit.
• Kyk na die tepels en areola. Is die tepel ingetrek, is daar ‘n afskeiding en is daar ekseem van die areola.
Lig nou jou arms op en kyk weer. Dit lok verskille in die posisies uit of beklemtoon veranderinge.

Betasting:
• Met betasting bepaal jy of daar ‘n massa of massas is.
• Gebruik jou vingerpunte.
• Beweeg kloksgewys.
• Voel vir ‘n knop.
• Is die knop hard of sag?
• Is die knop reëlmatig of onreëlmatig?
• Is die knop goed omskrewe of swak omskrewe?
• Is die knop beweeglik of nie?

Behandeling:

“In die verlede is groter gedeeltes van die bors en oksel verwyder om seker te maak die kanker is weg. Vandag weet ons meer en chirurge gebruik presiese, minder ingrypende tegnieke om dieselfde veiligheid te bereik. Net met minder pyn, beter herstel en mooier uitslae. Minder limfkliere word verwyder wat beteken daar is ‘n kleiner risiko vir limfedeem, of ‘n geswelde arm.”

Gewasse word dikwels eers met bestraling, chemoterapie, hormonale terapie en of immunoterapie verklein sodat ‘n mastektomie soms vermy kan word en net die deel waar die gewas is, verwyder word.

Dar is vele opsies met onmiddellike rekonstruksie sou die pasiënt daarna vra, vir vroue wat ‘n mastektomie moet ondergaan.

“Behandeling word vandag persoonlik aangepas op grond van die tipe gewas, jou leefstyl en wat vir jou belangrik is.”

Lees meer van die oggendtee in hierdie week se Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button