Henro laat speke sing tot in Kenia
Henro van der Walt is slegs een van vyf fietsryers landwyd wat gekies is om by 'n internasionale fietsrybyeenkoms in Kenia deel te neem.
MOKOPANE – Henro van der Walt, hoofseun van Hoërskool Piet Potgieter vir 2026, het die spesiale voorreg om Suid-Afrika te verteenwoordig by ‘n internasionale fietsrybyeenkoms in Kenia van 19-28 November.
Die talentvolle jongman het jare lank hard gewerk om sy droom te bewaarheid.
“Ek ry al fiets sedert ek 13 is,” sê Henro. “Om fietsry verder te neem, was nog altyd my droom. Ek is super opgewonde en kan nie glo dat my drome uiteindelik gaan waar word nie.”
Ongelukkig vereis deelname aan die byeenkoms ‘n koste van ongeveer R44 000, wat deur Henro self gefinansier moet word.
Hy is slegs een van vyf fietsryers landwyd wat gekies is om in sy ouderdomsgroep deel te neem.

“Ek leef vir fietsry – dis my droom en ek werk regtig hard. Ek is nooit te moeg of nie lus om te oefen nie; fietsry is my plan A,” sê Henro en voeg by dat hy baie dankbaar is vir die ondersteuning van sy gemeenskap.
“Ek hoop eendag kan ek ook aan die gemeenskap teruggee en ander jong fietsryers help en ondersteun.”
Indien moontlik, word ondersteuning vir Henro verwelkom om sy droom te verwesenlik en die finansiële las op sy ouers te verlig.
Alle bydraes kan in Hoërskool Piet Potgieter se rekening gemaak word:
Bank: Nedbank.
Rekening: 1188068458.
Takkode: 198765.
Verwysing: Henro.




