Wye keuse wyne oortref verwagtinge by wynveiling in Polokwane
Die wyne wat beskikbaar was, is netjies in lotte reggepak en afslaer Andrew Fraser het die kopers met sy kwinkslae aangespoor om hul hande diep in hul sakke te steek.
POLOKWANE – Die Vryburgers van Pietersburg se wynveiling vir liefdadigheid wat verlede Donderdagaand by Pietersburg Klub aangebied is, was ‘n gesellige samekoms van ou en nuwe vriende en ‘n geleentheid om ‘n winskopie of twee op te raap.
Die wyne wat opgeveil is, is per vragmotor vanuit die Robertson-omgewing aangery en het ‘n wye keuse vir versamelaars en sakelui in die gasvryheidsbedryf en selfs diegene wat hul kliënte met ‘n spesiale geskenk wou trakteer, gebied. Daar was ook wyne wat binne die bereik van die gewone koper was.
Die wyne wat beskikbaar was, is netjies in lotte reggepak en afslaer Andrew Fraser het die kopers met sy kwinkslae aangespoor om hul hande diep in hul sakke te steek.
Die eerste lot was ‘n versameling bestaande uit ses bottels Chardonnay Unwooded, ses bottels McGregor Chenin Blanc 2025, ses bottels Bon Courage The Pepper Tree Shiraz 2023 en een 500ml Die Wit Hond wat teen R3 500 opgeraap is en lewendige mededinging tot gevolg gehad het.

Die gewildste kopies was twee “vaatjies” Bon Courage Pinotage, Shiraz of Cabernet Sauvignon wat elkeen 300 bottels bevat het en onderskeidelik R36 000 en R40 000 elk gehaal het.
Die kopers word hulle eie keuse gelaat om die bottels van hul eie etikette te voorsien en ‘n vaatjie as versamelaarsitem huistoe te neem.
‘n Gelukkige koper het ‘n tweeliterbottel wit Jerepigo en ‘n tweeliter rooi Jerepigo van Langeberg Winery teen R1 300 sy keuse vir die aand gemaak.
Touleier van die Vryburgers, Gerhard du Preez was in sy skik met die suksesvolle veiling en sê dat dit alle verwagtinge oortref het.
“Die jaarlikse wynveiling het nou al ‘n tradisie geword en die gemeenskap het weer eens saamgespan en die aand ‘n reuse sukses gemaak. Baie dankie Polokwane dat julle ons hande sterk maak om terug te kan ploeg in ons gemeenskap.”
Hy het ook die Vryburgers en lede van die Tafelronde Pietersburg 22 bedank vir hul harde werk om die aand ‘n sukses te maak.
“Pietersburg Klub het ook sy bydrae gelewer en ons waardeer dit.”
Die liefdadigheidsprojek is ‘n spanpoging van die Vryburgers van Pietersburg en Robertson en Tafelronde Pietersburg 22 en vanjaar se opbrengs sal oudergewoonte aan liefdadigheidsorganisasies in Polokwane en die Robertsonomgewing geskenk word.




