Bewusmaking oor borskanker in Mookgophong
Elke deelnemer het 'n inskrywingsfooi van R10 betaal, en met groot dankbaarheid kon 'n bedrag van R1 260 aan die Magrietjie Kankerhulpgroep geskenk word.
MOKOPANE – Die Mookgophonggemeenskap het onlangs hande gevat en gestap vir borskankerbewusmaking.
Elke deelnemer het ‘n inskrywingsfooi van R10 betaal, en met groot dankbaarheid kon ‘n bedrag van R1 260 aan die Magrietjie Kankerhulpgroep geskenk word.
“Elke rand vertel ‘n storie van hoop, liefde en ondersteuning,” sê Marita Louw, VF Plus-raadslid van die Mookgophong-Modimolle Munisipaliteit.
Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat deelgeneem het.

“Dankie vir julle ongelooflike deelname. Vandag het oor soveel meer gegaan as net geld insamel – dit het gegaan oor gemeenskapsbou, samesyn, oor die wete dat borskankerlyers nie alleen is nie, en vir elkeen wat al iemand aan borskanker afgestaan het. Ons het ook gestap vir elke oorwinnaar,” sê Louw.
Die oudste deelnemer, tannie Barbie Bredenkamp (90 jaar en ses maande), het met groot grasie saamgestap.
“Tannie Barbie, jy is ‘n ligdraer, ‘n inspirasie en ‘n voorbeeld van volharding. Dankie dat jy wys dat liefde, geloof en deursettingsvermoë sterker is as enige struikelblok. Ons eer jou vandag as ons oudste deelnemer, ‘n simbool van hoop, krag en lewe,” het Louw gesê.

Deelnemers het ook hulde gebring aan die voormalige burgemeester van die Mookgophong-Modimolle Munisipaliteit, Marlene van Staden, wat haar lewe aan borskanker verloor het.
Haar naam en bydrae sal altyd in die gemeenskap voortleef.
“Marlene het soveel vir menige mens gedoen en haar naam sal nog lank op almal se lippe wees,” is die gevoel wat gedeel is.
“Ons waardeer elke borg, elke helper en elke hart wat hierdie dag ‘n sukses gemaak het,” het Louw afgesluit.




