DA veg geraas-geveg vir Polokwane inwoners
DA wyksraadslid in die munisipaliteit, Mariëtte Pretorius het daad by die woord gevoeg en Vrydagmiddag ‘n formele klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se kantore in die stad geliasseer.
POLOKWANE – Inwoners van die stad in die omgewing van die munisipale krieketvelde is nou raadop oor die steurnis en besoedeling van die omgewing wat tydens allerlei byeenkomste aldaar plaasvind en het by die DA aangeklop om hulp.
DA wyksraadslid in die munisipaliteit, Mariëtte Pretorius het daad by die woord gevoeg en Vrydagmiddag ‘n formele klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se kantore in die stad geliasseer.
“Dit is veral inwoners van die tehuise vir senior burgers, waarvan sommige ernstig siek is, en besighede in die gasvryheidsbedryf wat erg geraak word deur die oorverdowende lawaai wat tot vroeg in die oggend en veral Sondae voortduur. Gaste wat die stad besoek en oornag, vind dit onmoontlik om die geriewe te bereik aangesien ingange versper word en hulle dan eerder alternatiewe huisvesting ondersteun,” beklemtoon Pretorius.
“Artikel 24 van die Grondwet beskerm burgers se reg op ‘n omgewing wat nie skadelik is vir die gesondheid van inwoners nie en beskerm hul welstand en die munisipaliteit misken hierdie reg, ondanks gereëlde klagtes wat op dowe ore val,” meen Pretorius en verwys na die ‘One Woman Show’ wat onlangs by die krieketvelde gehou is.
Munisipale woordvoerder Thipa Selala het bevestig dat dié vertoning deur die Gesamentlike Operasionele Komitee (JOC) goedgekeur is en dat ‘n geraasbeperking van nie meer as 95dBA opgelê is.
Die organiseerders van die geleentheid was ook verplig om ‘n voldoeningsdeposito te betaal om te verseker dat skade gedek word en die terrein en omgewing behoorlik opgeruim word na die geleentheid.
Daar is ook, volgens Selala bepalings ingevoeg om te verseker dat aktiwiteite na middernag nie steurend vir inwoners sal wees nie. Selala het egter nie aangedui waarom die munisipaliteit se openbare ordepersoneel telkens versuim om op te tree wanneer klagtes van die publiek ontvang word nie.




