Plante, perde ‘n groot liefde vir Polokwane se Miané
Tans verkoop Miané van Zyl vetplante, maar sy beplan om die besigheid uit te brei deur ook hemde met 'n perdetema te verkoop.
POLOKWANE – Terwyl ander 10-jariges in die klas sit en met wiskunde worstel, het Miané van Zyl haar vingers in die grond en is besig om plante te plant en water te gee.
Miané woon saam met haar ouers op ‘n plaas en ontvang tuisonderrig.
Sy vertel hoe sy, elke keer as haar ma die plante water gee, reeds van jongs af, wou help.

“So het ek ‘n liefde vir plante ontwikkel. Later het my oupa se vrou, tannie Jana Logtenberg, vir my ‘n klomp plante gegee wat ek kon verkoop,” sê sy.
Tans verkoop Miané vetplante, maar sy beplan om die besigheid uit te brei deur ook hemde met ‘n perdetema te verkoop.
Saam met haar ma het sy die projek M&M Equine Adventures van stapel gestuur.
“Ons laat mense toe om op ons perde by Villa Maroela Lodge te ry. Op 16 Desember hou ons ‘n Pony Camp daar. Ek hekel ook boekmerke en komberse om te verkoop.”

Die plante wat sy verkoop, plant sy self of sy koop nuut aan. Sy spaar die geld om vir haar ‘n spesifieke toom en ander perdetoerusting te koop.
Al op ‘n jong ouderdom droom Miané daarvan om haar eie perdryskool na skool te begin.
Haar plantbesigheid dra die naam ‘Miané’s Green Thumbs Creations’, ‘n naam wat haar ma, Madelène, uitgedink het.
“Om plante te versorg is eintlik baie maklik. Moet net nie te veel water gee nie, sorg dat die plant in die regte grond geplant is en genoeg sonlig en skaduwee kry. My raad aan ander is om tyd en moeite in te sit. Mamma sê altyd: Wat jy insit, sal jy uitkry.”

Wanneer Miané nie met haar plante besig is nie, bring sy tyd deur saam met haar Weimaranerhond, Spook, haar perd Shyloh, haar hoenders en krimpvarkie.
Sy ry graag fiets, jag saam met haar pa, vang vis en stap gereeld.
“As ek moet kies tussen my perd en die plante, kies ek my perd. Hy is my beste maat en ek is baie lief vir hom,” sê sy.




