Coenie hou van musiek wat uit die hart kom en ‘n storie vertel
Coenraad dra die lirieke in sy hart in deuntjies wat hy graag met ander wil deel, het hy aan Polokwane Observer vertel.
POLOKWANE – Bekende mense is dikwels ten minste een persoon se held of inspirasie.
So kyk Coenraad Keyser op na die werk van Theuns Jordaan en Koos du Plessis, en gebruik hy hulle musiek as aanmoediging.
Coenraad, of Coenie soos geliefdes hom noem, dra die lirieke in sy hart in deuntjies wat hy graag met ander wil deel, het hy aan Polokwane Observer vertel.
“As jong seun was my gedagtes gevul met liedjies en ek het graag gesing. Ek het reeds op 16 geweet dat ek ‘n loopbaan in musiek wil volg. Ongelukkig het dinge nie uitgewerk soos ek gehoop het nie, en vir ‘n paar jaar het ek glad nie meer aandag aan musiek gegee nie. Tot onlangs, toe mense op sosiale media my weer motiveer om my liefde uit te leef.”

Coenie werk op ‘n sitrusplaas en sê hy wil nog nie te groot droom nie.
“Op die oomblik moet ek eers fokus om myself op die ‘map’ te kry. Daarna sal ek begin droom, groot droom.”
Sy eerste enkelsnit, ‘Tussen My en Jou’, is vroeër die maand vrygestel. Aangesien hy nog nie sy eie musiek skryf nie, is dié lied deur The Hope and Harmony Group vervaardig.
Theuns, Koos en ook Adam Tas se musiek speel ‘n groot rol in Coenie se lewe, en die enkelsnit gaan juis oor Theuns en Koos wat met mekaar gesels oor wat hulle met hulle musiek wou bereik.
“Ek hou van musiek wat uit die hart kom en ‘n storie vertel – diep, eerlike lirieke. Die woorde wat vir nou nog net in my kop leef, word gevorm deur my eie ondervindings en hoe ek dinge ervaar. Dalk is daar binnekort ‘n liedjie uit my eie pen.”
Coenie sê kritiek dryf hom om harder te werk en die kritici verkeerd te bewys. Hy het deur sy loopbaan tot dusver geleer dat hy baie meer deursettingsvermoë het as wat hy ooit gedink het, sê hy.
“Soms twyfel ‘n mens en wonder jy of alles die moeite werd is. Tog, voor jy jou oë kan uitvee, kan jy terugkyk en trots wees op jouself. Om gemotiveerd te bly, herinner ek myself om terug te staan, te wag dat die ergste stof gaan lê, en dan weer te probeer.”




