HPP-hoofseun, Henro, laat SA-vlag wapper in Kenia
Henro van der Walt het Suid-Afrika se naam gestand gedoen en 22ste geëindig in dié resies.

MOKOPANE – Henro van der Walt, die hoofseun van Hoërskool Piet Potgieter vir 2026, het die spesiale voorreg gehad om Suid-Afrika te verteenwoordig by ‘n internasionale fietsrybyeenkoms in Kenia van 19-28 November.
Lees meer: Henro laat speke sing tot in Kenia
Henro het jare lank voorberei vir die geleentheid en moes hom meet teen fietsryers van lande soos Eritrea, Rwanda, Algerië, Ethiopië, Mauritius, Egipte, Uganda, Marokko, Namibië en Zimbabwe.
Hy het Suid-Afrika se naam gestand gedoen en 22ste geëindig in dié resies. Suid-Afrika het uiteindelik vier goue, een silwer en een brons medalje gewen in die stryd teen nege lande.

“Ek het voor die resies gemik om my beste te doen en ‘n goeie plek te bereik, maar vinnig besef dis nie ‘n eenmanresies nie, dat spanwerk die sleutel is,” sê Henro.
“As een van ons Suid-Afrikaners eerste sou eindig, sou ons drie ekstra plekke by die wêreldkampioenskappe volgende jaar verdien het. Ek het hard gewerk op die gelyke paaie sodat dit vir die span makliker sou wees met die klimgedeeltes.”
Henro beskryf die ervaring as uitdagend, maar lekker, en sê hy gaan hard werk vir volgende jaar.
“Aan almal wat bygedra het om hierdie geleentheid moontlik te maak, sê ek baie dankie, veral aan my ouers en my ondersteuningsnetwerk. Sonder julle sou dit nie moontlik gewees het nie,” sluit hy af.




