Heart Drive Projek: 9 jaar van hoop, hulp vir Polokwane se mense
Die Heart Drive Projek is een van daardie projekte wat gebore is uit nood en wat, nege jaar later, steeds help waar dit nodig is.
POLOKWANE – Wanneer dit goed gaan, vergeet ‘n mens maklik van die swaar tye en van dié wat steeds stry. Die Heart Drive Projek is een van daardie projekte wat gebore is uit nood en wat, nege jaar later, steeds help waar dit nodig is.
Mariza Pelser, stigter van die projek, sê dit het toevallig die lig gesien. “’n Vrou het babaklere benodig en iemand het my gevra of ek kan help. My eie kinders se klere was nog in my kas, en ek het besluit om dit te gee. Aangesien babas vinnig uit hulle klere uitgroei en dit bykans niks makeer nie, het ek gevra dat die mamma dit weer vir my teruggee wanneer haar baba uit dit uitgegroei het. Dit was ‘n behoefte waarvoor ek ‘n maklike oplossing gehad het.”
Die projek bied ‘n tydelike uitkoms, waar die persoon se huidige omstandighede en probleme geïdentifiseer word. Verskeie hulpmiddels en hulpbronne word dan ingespan om die persoon met ondersteuning en leiding weer op die been te kry.
“Finansiële onsekerheid, maatskaplike en sosiale probleme speel ‘n groot rol in die behoeftes van die gemeenskap. Die gesin as middelpunt en die ouers se rol om gereedskap te bied of ander aan te stel om te help, bly ‘n kernprobleem,” verduidelik Mariza.
Sy erken dat die bestuur van ‘n organisasie sonder winsbejag een van die moeilikste dinge is om te doen. “By die Heart Drive Projek is ons administratiewe werk omvangryk, met vele riglyne waaraan ons moet voldoen. Alle wette moet in ag geneem word. Tegelykertyd moet ons ook die fisiese en emosionele faktore van diegene wat hulp ontvang in ag neem. Skenkers se wense moet ook ingewerk word waar nodig.”
Mariza sê dat skenkings en geldinsamelings dikwels die grootste uitdaging is, en dat hulle voortdurend strategieë toets om nuwe maniere te vind om hulpbronne te genereer.
“Ons wil nie ‘n organisasie wees wat net vra nie, maar ook skenkers aktief deel maak van die projek. Die mense wat ons help, het die reg om anoniem te bly, maar hulle het dieselfde behoeftes as dié in tehuise en skuilings.”
Haar grootste les tot dusver is die vertroue wat sy in mense plaas. “Nie almal wil of kan help nie, veral as hulle nie self iets aan die situasie wil doen nie.”
Haar drome sluit in ‘n huis waar bejaardes wat slegs ‘n staatstoelaag as inkomste kry kan woon, sowel as ‘n plek waar mense wat dringend uit slegte omstandighede moet kom, vir ‘n nag of twee veilig kan wees.
“Nog ‘n droom is dat die geld en skenkings self sou inkom sonder dat ons hoef te vra. Ek hoop mense kry weer vertroue om hul medemens te help en om ander wat dit hulle lewensdoel gemaak het, te vertrou.”
Mariza sê dat indien die projek skielik tot ‘n einde sou kom, daar ‘n enorme leemte sou wees vir mense wat tydelike nood ervaar of wie se omstandighede skielik verander.




