Local News

RJ verkies viswaters bo skermtyd

Dié bedrewe hengelaar is reeds sedert gr.1 deel van Oosskool se o/13-hengelspan, en skryf sy sukses toe aan ‘n reeks mense in sy kring wat hom ondersteun.

POLOKWANE – Waar baie jong seuns vandag eerder verkies om hul vrye tyd voor skerms deur te bring, bring RJ Odendaal dié tyd veel eerder deur langs die viswaters.

RJ is ‘n gr. 4-leerder by Oosskool en is reeds sedert gr. 1 deel van dié skool se o/13-hengelspan. Ondanks sy ouderdom het hy reeds indrukwekkende hoogtes in sy hengelloopbaan bereik. Verlede jaar het RJ gekwalifiseer vir die o/13 Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengelspan tydens die Region 5-toernooi wat in Mei by die Hardapdam buite Mariental in Namibië plaasgevind het. Hy is een van slegs vier hengelaars in die land wat vir hierdie span gekies is.

RJ Odendaal met een van die vele visse wat hy al gevang het.

“Ek was sewe jaar oud toe ek die eerste keer mededingend begin visvang het. In Oktober verlede jaar het ek aan die SA-skole kompetisie in Bloemhof deelgeneem en ‘n derde plek behaal, wat daartoe gelei het dat ek vir die o/10A-skolespan gekies is. In Desember is ek toe ook vir die o/13 nasionale span gekies,” vertel hy trots.

Sy hengelreis het egter op ‘n onverwagse plek begin, naamlik die rugbyveld, vertel hy. “Ek is tydens ‘n bulletjierugbywedstryd genader om vir die Penkoppespan by die SAVOF te hengel. ‘n Oom het ‘n foto en storie van my in die ‘Stywe Lyne’-tydskrif gesien en besluit om my te vra of ek sou belangstel. Met my ouers se toestemming het my hengelloopbaan daar begin.”

RJ skryf sy sukses toe aan die ondersteuning van sy ouers en sy mentor, Werner de Beer, hengelorganiseerder by Oosskool en Limpopo Hengel. “By die skool oefen ek my gooie en tegniek onder Meneer Werner se leiding. Hy het my geleer dat hengel nie ‘n saak van lewe en dood is nie – dit is baie belangriker as dit. Hy het my ook geleer dat niks jou so nederig maak soos hengel nie, en dat daar waardevolle lesse in verloor lê.”

RJ se pa, Danie, sorg dat sy hengeltoerusting altyd reg is en dat sy stroppe sterk genoeg is. “Hy hou my kalm, gefokus en gemotiveerd. My ma, wat glad nie kalm is nie,” lag RJ, “maak seker ek bly energiek en dat ons altyd iets lekker het om te eet en te drink. ‘n Mens kan nie op ‘n leë maag presteer nie.”

RJ Odendaal saam met sy ma, Marisa, nadat hy sy eerste vis gevang het.
RJ Odendaal saam met sy ma, Marisa, nadat hy sy eerste vis gevang het.

RJ erken dat sy prestasies nie vanself kom nie en bedank ook Dean Pelser en Haccum Hough van die Nylfonds vir hul bydrae tot sy ontwikkeling. “Sonder almal se ondersteuning, mentorskap, raad en aanmoediging sou ek nie eendag kon bereik wat ek graag in hengel wil bereik nie. Dankie vir die geleenthede wat ons jongmense kry om te leer, te groei en vertroue op te bou, veral by die Nyldam waar Limpopo-kinders die voorreg het om met min koste te kan hengel.”

RJ se droom is om eendag die beste hengelaar in die land te wees, maar vir nou fokus hy op groei. “Beter beteken nie noodwendig om te wen nie. Dit beteken beter gooi, beter stroppe bou, vinniger vang, minder vis verloor en die belangrikste van alles, beter vriende maak.”

Lees meer oor RJ se hengelloopbaan in hierdie week se Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button